NUUSBRIEF 26 AUGUSTUS 2026
Terug by die huis—’n Reis wat verder gestrek het as Nederland
Liewe familie en vriende
Daar is iets besonders aan ‘n terugkoms.
Mens dink jy kom net terug na ’n plek. ’n Land. ’n Huis. ’n Bekende straat. Jou eie bed. Jou eie kombuis. Jou mense. Maar soms kom jy nie heeltemal dieselfde mens terug as wat jy weggegaan het nie.
Ek is terug uit Nederland. Terug in my mooi Suid-Afrika. My bekende dorp, huis en, die heel belangrikste van alles, terug in my geliefde Cornelius se arms. En wat ’n vreugde was daardie weersiens!
Ek dink daar is ’n rede waarom lughawens van die emosioneelste plekke op aarde kan wees. Mense hardloop na mekaar toe. Arms word om nekke gegooi. Daar word gelag, gehuil, vasgehou en soms net vir ’n paar sekondes lank stil gestaan terwyl twee mense mekaar aankyk met die onbeskryflike verligting van: “Jy is terug.”
Ek het iewers die volgende mooi gedagte raakgelees:“Airports have seen more sincere kisses than wedding halls, and more sincere tears than funerals.”
Ek glo dit. Want daar, tussen die bagasie, aankomssale en vertreksborde, word liefde soms sonder enige pretensie sigbaar.
Nou moet ek eers bieg. Eerlikwaar… ek hou nie van reis nie! Ek is waarskynlik die wêreld se slegste reisiger, geen wonder my oudste dogter het my vooraf gesê: “Mamma onthou asseblief: “Do not be a negative Nelly!”
Inteendeel. Ek haat reis. Nie die bestemming nie. Nie die mense wat ek besoek nie. Die hele proses om daar te kom!
Die inpak. Die weeg van tasse. Die probeer onthou wat mag en wat nie mag nie. Tydlyne en spertye. Die voortdurende gevoel dat jy iewers betyds moet wees en absoluut nié jou vlug mag misloop nie. Rye mense in drukgange tussen twee toue. Tree-vir-tree, wag jou beurt af. Glimlag vir die personeel. Veg deur jou spanning en moegheid. En dan natuurlik die lughawe-sekuriteit… Ai, die liewe lughawe-sekuriteit! In jou kop maal dit maar altyd: “Sê nou net ek het iewers iets verkeerd gedoen? Iets vergeet. Iemand het iewers iets in my bagasie geplant en nou gaan hulle my arresteer en in ’n vreemde tronk gooi…”
Omdat ek al ’n skouervervanging en opehartchirurgie gehad het en nou ’n versameling staalonderdele binne-in my liggaam ronddra, blêr die alarms by omtrent elke lughawe waar ek kom! Skoene uit. Juwele af. Gordel af. Alles in die houertjie. Loop deur. Bleep! Terug. Nog iets af en in die mandjie. Weer deur. Bleep! Teen daardie tyd begin ek wonder of hulle my nie maar net met ’n permanente lughawe-sekuriteitskaart moet toerus nie. Dis ongelooflik stresvol. Dan lê die vlieg nog voor… Ekonomiese klas.
My pa het altyd gesê: “Ons ‘gewone’ mense vlieg nie Eerste Klas nie. Ons vlieg saam met die ‘suitcases’.” 😂 Ek dink daaraan elke keer wanneer ek myself in daardie klein ekonomiese klas-sitplek probeer opvou. Hierdie keer het ek op grond van my oudste se woord ’n wilsbesluit geneem: as ek dan móét reis, gaan ek dit positief aanpak. Ek kan nie die klein sitplek groter maak nie. Ek gaan nie die lughawe-sekuriteit vrou-alleen verander nie. Ek kan beslis nie die vlug se duur verkort nie. Máár, ek kan besluit met watter gesindheid ek dit gaan doen. En dit maak ’n verskil. Elke keer.
Van een wêreld na ’n ander
Nederland was wonderlik. Maar laat ek dit sê soos dit is: ’n Ander kontinent, ’n vreemde land, ’n vreemde dorp, vreemde mense, ’n vreemde huis en selfs ’n vreemde slaapkamer… Al is die mens wie jy besoek, jou eie kind. Alles voel aanvanklik anders. Dit ruik anders. Dit klink anders. Lyk anders. Selfs die stilte klink anders. Dan moet jy skielik vir twee weke lank saam met jou volwasse, werkende seun leef. Hy het sy eie roetine. Sy werk. Sosiale lewe. Dit is nou sý wêreld. Daardie eerste paar dae van aanpassing waarin ek myself skielik afvra: “Waaroor gaan ons nou eintlik twee weke lank gesels?”
Wel… Ek hoef my glad nie te bekommer het nie. Want toe begin ons gesels. En kuier. Lag en dinge saam doen was daar amper nie genoeg ure in die dag nie. Een van die mooiste ontdekkings van hierdie besoek was weereens dat my seun en ek ’n besondere gemene deler het: Flieks.
Ons het verskillende teaters besoek en feitlik al die films op die kringloop tussen Weert en Eindhoven gaan kyk wat ons kon inpas.
Ons het The Odyssey gesien—’n uitstekende film. The Turner —ook briljant. Die nuwe Superman, met David Corenswet as Clark Kent, en natuurlik kon ons nie anders as om daarna weer Man of Steel, met Henry Cavill, te kyk nie. Daar is een toneel daarin wat ons albei (soos altyd) weer diep geraak het. Die jong Superman hardloop weg en kruip in die pakkamer weg. Sy ma kom skool toe en hulle kommunikeer deur die toe deur. Wat ’n wonderlike beeld van ’n ma se liefde.
“The world is too big, Mom…”
“Then make it smaller. Just follow my voice and walk towards it.”
Ek dink elke ma verstaan daardie oomblik. En miskien verstaan elke mens dit op een of ander vlak. Soms voel die wêreld eenvoudig té groot. Te veel. Te ingewikkeld. Te onseker. Dan het ons iemand nodig wie se stem ons vertrou. “Maak dit kleiner. Volg net My stem en loop daarheen.”
Onder andere het ons ook The Devil Wears Prada 1 & 2 gekyk. En nog vele ander films—party in die teater en ander sommer tuis.
Die klein dinge wat groot herinneringe word
Ons tyd saam was natuurlik soveel meer as films. Ek het hom gehelp om sy gordyne korter te maak. Ons het die nodige goed/huishoudelike ware vir sy huis gaan koop. Ek het vir hom lekker huis- en ma-kos gemaak. Ons het saam koffie gedrink. Saam ontbyt geëet in Eindhoven by Meneer de Boer. Saam koek by klein koffiewinkeltjies geniet. Saans het ons soms iets gaan drink. Ons het gesels, baie gelag, ook gehuil. Ons het saam gebid. Iewers tussen al hierdie gewone, alledaagse dinge het ek besef hoe uitsonderlik hierdie tyd saam met my kind eintlik is. Kosbaar. Onherhaalbaar. ’n Venster in tyd wat eendag ’n herinnering sal wees. Ek is baie bly ek het gegaan.
Skrywersnuus en die onverwagse “skrywersvakansie”
Daar het iets gebeur waarvoor ek aanvanklik nie voorbereid was nie. Ek kon nie werk nie. Nie omdat ek nie wou nie. Omdat ek nie kon nie! Ons het dae lank gesukkel om vir my rekenaar ’n kragprop/adapter te kry wat in die Nederlandse muurproppe pas. Uiteindelik moes my seun een aanlyn bestel. My skootrekenaar se battery was pap. Nêrens was die regte adapter beskikbaar nie. Daar sit ek toe. Gedwonge verlof. Of, soos ek dit liewer wou noem: ’n Vriendelik ‘verpligte’ vakansie. Dit was heerlik!
In ’n samelewing wat soms dikteer dat mens moet besig-besig-besig bly. Altyd iets moet regmaak of iets moet beplan, was dit amper soos om ‘toestemming’ te kry om vir ’n paar dae net… niks te hoef te doen nie. Toe die adapter uiteindelik aankom, kon ek my rekenaar aanskakel en terugkeer na my wêreld van woorde. Uitgerus en weer van voor passievol oor my skryfwerk.
Een van die mooi dinge van ’n besoek aan iemand anders se lewe is dat jy ook tyd kry om jou eie lewe van buite af te bekyk. Ek het my eie “me-time” geneem. Ek het die Katolieke kerke in Weert besoek en ’n erediens bygewoon. Ek het stil gesit, gekyk, geluister. Gebid. Weereens ontdek hoe diep dankbaar ek is vir die plek waar ek myself bevind. Vir my Hemelse Vader en Sy groot Genade. Vir Sy leiding en Sy beskerming. Sy muur van vuur om my.(Sagaria 2:5) Vir die feit dat ek kon gaan én veilig kon terugkom. Miskien was my grootste reis in Nederland nie een wat op ’n vliegtuigkaartjie verskyn het nie. Dit was die reis binne-in myself.
Natuurlik het ek ook die toeriste-ding gedoen. Ek het by klein restaurantjies gesit. Koffie gedrink. Mense dopgehou. Stories in my kop gemaak. Want dit is wat skrywers doen. Ons sien ’n vreemdeling by ’n tafel en wonder: Wie is sy? Waarheen gaan sy? Wie wag vir haar? Vir wie wag sý? Waaroor dink sy? Is sy gelukkig? Is sy verlief? Is sy hartseer? Wat het gister met haar gebeur? Terwyl ek mense dopgehou het, het ek ook oor myself begin dink. Oor die res van die jaar. Oor my lewe. Oor wat nog voorlê. Oor wat ek nog wil doen. Oor wat ek nog wil skryf. Ook, waarheen die Here my volgende gaan lei.
Skrywersnuus—van een boek na die volgende
Ek is steeds besig met die Engelse vertaling van Olifant op ’n sweefstok. My doelwit is om teen die einde van Augustus daarmee klaar te wees. Daarna wag daar ’n hele nuwe fase. Gedurende September en Oktober gaan ek aan Val en Sweef, die opvolg, werk. Ek gaan deur Annerle Barnard se leesverslag werk. Haar veranderinge, kommentaar, weglatings en byvoegings.
Dit bring my by iets wat ek graag met elke skrywer—en voornemende skrywer—wil deel. Maak nie saak of jy besig is met jou debuutroman of reeds jou tiende boek nie: Kry ’n professionele leesverslag. En nie van jou vriendin nie. Ook nie van jou kennisse nie óf van jou lewensmaat nie. Dit is maklik om ’n manuskrip vir iemand te stuur wat jou liefhet. Hulle wíl jou ondersteun, jou aanmoedig. Jou nie seermaak nie. En daarom sal jy dikwels positiewe terugvoer van hulle kry. Stuur jou manuskrip aan ’n erkende, ervare en objektiewe leser of skrywer wat jou nie persoonlik ken nie. Iemand wat die manuskrip lees met ’n heel ander oog. Iemand wat vir jou kan sê: Hier werk dit. Daar werk dit nie. Op hierdie bladsy verloor jy die leser en daardie bladsy is dit té veel inligting. Hier ontbreek iets, voeg dit of dat by. En dan kom daardie wonderlike, maar soms pynvolle raad wat elke skrywer uiteindelik moet leer. “Kill your darlings.”. Ons skrywers het gedeeltes, paragrawe, bladsye wat ons dink briljant is. ’n Toneel waarvoor ons lief geword het, of ’n beskrywing wat ons eenvoudig móét behou. Want ons het dit geskryf, is trots daarop. Ons hou daarvan. Dan lees iemand van buite dit en vra die eenvoudigste, maar belangrikste vraag: “Why is this here?” Is dit nodig? Hoekom moet die leser hierdie inligting kry? Dra dit die verhaal vorentoe? Voeg dit iets by? Of kan ons dit eenvoudig…uitlaat? Dit kan pynlik wees. Meestal is dit juis die buite-oog wat jou boek beter maak. ’n Goeie leesverslag vertel jou nie net wat jy graag wil hoor nie. Dit help jou om te sien wat jy as skrywer nie meer kan raaksien nie omdat jy te naby aan jou eie verhaal staan. Doen dit.
Nuus aan die tuisfront
Terwyl ek in Nederland was, het die lewe by die huis voortgegaan. Ons Benevolent Stay – The Stellenbosch Way gaan goed, en ons vertrou ons Hemelse Vader vir ’n vol kalender.
As jy as nuusbriefleser, of enige van jou vriende of familie, graag in Stellenbosch wil kom kuier, sal ons dit baie waardeer as jy ons verblyf aanbeveel.
Bespreek Benevolent Stay—The Stellenbosch Way https://book.nightsbridge.com/40024 Stuur die skakel gerus aan. Asseblief.
My geliefde Cornelius se houtbesigheid gaan ook goed. Ons Kaapse winter is hierdie jaar nie so koud en reënerig soos wat ons gewoond is nie. Die hout loop goed, maar saam met die goeie verkope kom daar ook ’n ander behoefte: Reën. Ons Kapenaars bid vir nog ’n bietjie water uit die hemel. Die winterreën is skaars. Ons bid en vertrou dat die Here die wolke weer sal oopmaak en dat die reën sal aanhou—tot diep in Desember, as dit moet! En natuurlik hoop ons dat mense dan weer droë hout nodig sal hê en by ons sal kom koop.
Turkish Airlines—’n welverdiende lofprysing
Ek moet ook hierdie maand ’n besondere lofprysing gee aan Turkish Airlines vir ’n uitstekende reiservaring. Turkish Airlines. Die tussenstop in Istanbul was kort en kommervry. Nie een van my vlugte was vertraag nie. Nie een van my tasse het verdwyn nie. Die diens, op én af van die vliegtuig, was vriendelik. Die kos was heerlik. Ja, die vlugte was vol. Ja, ekonomiese klas is nie juis luuks nie. En ja… die ruimtes is klein. Maar mens weet dit voordat jy bespreek. Soos ek vroeër gesê het: Jy kan nie altyd die omstandighede verander nie, maar jy kan jou gesindheid kies.
Hierdie keer het ek gekies om die reis te geniet vir wat dit was. Ek is dankbaar dat alles veilig en glad verloop het. Dankbaar vir goeie gesondheid. Dankbaar vir ’n ongelukvrye reis. Dankbaar dat ek kon gaan. Nog dankbaarder vir ’n veilige terugkoms.
Reis verander mens
In my Julie-nuusbrief het ek geskryf: “Reis verander mens.” Dit is waar.
Ek het nie net teruggekom met foto’s, herinneringe en ’n tas vol klere en geskenkies nie. Ek het dankbaarder teruggekom. Verdiep. Ek het gegroei. Ek het nader aan my kind gekom. Nader aan my Hemelse Vader. Nóg nader aan Cornelius. En op ’n ander manier ook nader aan my ander drie kinders. Afstand het my weer laat besef hoe kosbaar nabyheid is. Hoe kosbaar familie is. Goeie gesondheid, ’n veilige huis. Om iemand te hê na wie jy kan terugkeer.
En toe… kom die weersiens
Die aankomssaal. Die bekende gesig. Die bekende arms. Die bekende reuk van iemand wat jy liefhet. Cornelius. Daar is ’n besondere soort vreugde wat jy eers verstaan wanneer jy iemand vir wie jy baie lief is, ná ’n tyd van afwesigheid weer sien. Dit is nie gewone vreugde nie. Dit is verligting. Dankbaarheid. Liefde. ’n Hele emosionele storm wat in een enkele oomblik saamtrek. Jy besef skielik: Ek het jou gemis. Ek is veilig. Ek is tuis. Jy is hier. En miskien is dit waarom lughawens sulke eerlike plekke is. Daar is nie tyd vir voorgee nie. Daar is net mense wat wag. Mense wat terugkom. Mense wat gaan. Mense wat iemand liefhet. En mense wat mekaar uiteindelik weer vashou. Die grootste reis is soms die een huis toe
Nederland het my baie geleer. Dit het my gewys hoe groot die wêreld is. Hoe anders mense se lewens kan wees. Hoe dapper ’n mens moet wees om jou bekende wêreld agter te laat en elders ’n nuwe lewe te begin. Ek is super-trots op my seun! Dit het my gewys hoe kosbaar my seun se teenwoordigheid in my lewe is. Om dankbaar te wees. En om te onthou dat ’n mens soms ver moet reis om weer raak te sien wat eintlik reg voor jou was.
Die grootste geskenk van ’n reis is dalk nie die bestemming nie. Dit is die perspektief wat jy saam met jou terugbring. Ek het Nederland verlaat met ’n hart vol herinneringe. Ek het my seun daar gelos—iets wat ’n ma se hart nooit heeltemal maklik vind nie. Maar ek het teruggekom met die wete dat die afstand tussen ons nie die liefde tussen ons verander nie. Toe ek uiteindelik weer Suid-Afrikaanse grond onder my voete voel, het ek besef: Ek het Nederland geniet. Ek het die kuier met my seun terdeë geniet.
My land. My dorp. My huis. My mense. My geliefde. En die arms waarin ek uiteindelik weer kon inloop. Met ’n hart voller as toe ek vertrek het, sê ek: Dankie, Here. Dankie vir die reis. Dankie vir my kind. Dankie vir my geliefde. Dankie vir my ander kinders. Dankie vir my gesondheid. Dankie vir beskerming. Dankie vir herinneringe. Dankie vir my werk. Dankie vir die voorreg om te kon gaan. En bowenal—Dankie dat ek kon terugkom. Want elke reis het ’n bestemming. Maar die mooiste bestemming van almal… is soms net: TUIS.
Liefde en seën,
