NUUSBRIEF 30 JULY 2026
Groete uit Nederland—’n Reis van herinneringe, ontmoetings en dankbaarheid
Liewe familie en vriende
Soms gee die Here vir ons ’n tydperk in ons lewe wat soos ’n geskenk voel. ’n Tyd waarin mens nie net nuwe plekke ontdek nie, maar ook nuwe dele van jouself leer ken. Hierdie Julie-maand het vir my presies so ’n tyd geword.
Ek skryf vandag vir julle vanuit Nederland, waar ek steeds kuier en waar ek tot die einde van hierdie week sal wees. Dit is ’n besondere ervaring om vir ’n kort tydjie in my seun se wêreld in te stap—sy omgewing te sien, sy roetine beter te verstaan, die plekke waar hy leef en werk te beleef en om sommer net weer kwaliteit-tyd saam met hom te hê.
Die reis na Nederland
My reis hierheen het met ’n nuwe ervaring begin. Vir die eerste keer het ek met Turkish Airlines gevlieg. Ek het vanaf Kaapstad vertrek en my reis het my eers na Istanbul geneem. Daar het ek ’n kort tussenstop gehad voordat ek my vlug na Amsterdam aangepak het.
Daar is iets besonders aan ’n lang reis. Mens beweeg nie net fisies van een plek na ’n ander nie—daar is altyd ook ’n innerlike beweging wat plaasvind. ’n Reis gee jou tyd om na te dink, om stil te raak en om die lewe vanuit ’n ander perspektief te bekyk.
Maar die grootste oomblik van die hele reis was natuurlik toe ek uiteindelik deur die aankomssaal in Amsterdam stap en my seun daar vir my wag. Met ’n bos blomme in sy hande.
Die laaste keer wat ek hom gesien het, was in Desember 2025. Daar is geen manier om daardie oomblik volledig met woorde te beskryf nie. Daardie eerste vashou-drukkie. Die besef: “Hier is jy. Ek is weer naby jou.” Dit is een van die grootste geskenke van ’n ouer se hart—om jou kind weer vas te hou nadat afstand tussen julle was.
Tyd saam my seun
Hierdie besoek is vir my kosbaar omdat ek bewus is van hierdie besondere vensterperiode in sy lewe. Hy is tans nog uncommitted en single—in daardie mooi fase waar hy sy lewe bou, sy loopbaan ontwikkel en homself ontdek.
Ek besef hoe spesiaal hierdie tyd is. Ek hoef nie my plek as ma te deel met ’n vriendin, verloofde of vrou wat natuurlik eendag ’n baie belangrike deel van sy lewe sal word nie. Vir nou kan ek net hierdie tyd saam met hom geniet en die voorreg hê om hom weer op ’n dieper manier te leer ken.
Ons het heerlike kwaliteit-tyd saam. Een van die dinge wat ons nog altyd verbind, is ons liefde vir films. Ons is albei groot film-entoesiaste en om saam in ’n teater te sit, ’n goeie storie te beleef en daarna daaroor te gesels, is een van daardie eenvoudige dinge wat vir ons baie spesiaal is.
Ons het na die film “The Odyssey” in Eindhoven gaan kyk—dit was uitstekend! Die hele ervaring van om saam daarheen te reis, die film te geniet en daarna herinneringe te maak, is vir my net so waardevol soos die film self.
Ons het ook by ’n heerlike steakhouse, Rodeo, gaan eet. Daar is iets besonders aan ’n tafel waar twee mense rustig kan sit, gesels, lag en net die oomblik geniet.
Die volgende dag het ons het die tweede deel van “The Devil Wears Prada” gaan kyk. Hierdie keer in die dorpie waar Ivan woon—Weert. Fliek kyk is een van ons gemene delers. Dit is een van daardie belangrike tradisies wat ons verbind, ongeag afstand of die jare wat verbygaan.
Om Weert deur ’n toeris se oë te ontdek
Ek het myself toegelaat om Weert soos ’n ware toeris te ontdek. Elke dag stap ek deur die dorpie, kyk na die geboue, die mense, die strate en die klein besonderhede wat ’n plek sy eie karakter gee. Ek het die groot Katolieke kerke, St. Joseph’s en St. Mary’s, binnegestap—en dit het my diep geraak.
Die argitektuur, die loodglasvensters, die beelde, die houtwerk, die kandelare, die ligte, die banke en selfs die swaar fluweel gordyne vertel elkeen ’n verhaal. Dit is nie net geboue nie; dit is ruimtes wat deur generasies se geloof, gebed en menslike handewerk gevorm is. Kuns.
Ek sit ook graag by straatkafeetjies en doen people-watching. Ek kyk na mense se lewens wat voor my ontvou. Ek wonder oor hulle stories, hulle drome, hulle vreugdes en hulle stryd. Ek hou ook elke dag dagboek van my ervarings. Ek skryf neer wat ek sien, wat ek voel en die klein oomblikke wat maklik verlore kan gaan as mens nie doelbewus stadiger leef nie.
Een ding wat ek opnuut ervaar, is hoe naby my Hemelse Vader aan my is. Ek sien Sy leiding en Sy teenwoordigheid in die toevallige ontmoetings wat oor my pad kom. Soms is dit juis die klein, kort gesprekke met vreemdelinge wat die grootste boodskappe dra.
’n Ontmoeting met ’n Suid-Afrikaanse meisie ver van huis
Een van hierdie ontmoetings het gebeur by ’n kassier waar ek iets gekoop het. Sy het my aksent herken en gevra waar ek in Suid-Afrika woon?. Toe sy hoor ek is inderdaad van Suid-Afrika, het haar hele gesig verander. Sy is ’n jong Suid-Afrikaanse meisie wat hier in Nederland werk. Sy het my begin uitvra. Ek kon hoor hoe baie sy haar ma, wat steeds in Johannesburg woon, mis.
Daar was ’n oomblik waar die afstand tussen ons lande, kulture en omstandighede verdwyn het. Dit was net twee Suid-Afrikaanse vroue wat verstaan wat dit beteken om ver van jou mense af te wees.
Toe ek vir haar sê: “Ons moeders en ouers in Suid-Afrika mis ons kinders ook. Dalk meer as wat hulle ooit sal besef,” het haar oë waterig geword. Ek kon sien hoe die vreemde land, die alleenwees en die verlange soms swaar kan raak.
Ek sien dit ook in my eie seun. Hulle is ongelooflik dapper om die skuif na ’n ander land te maak. Hulle gaan uit om werksondervinding op te doen, nuwe geleenthede aan te gryp en hulle horisonne te verbreed. Maar daar bly altyd ’n deel van mens wat ’n buitestaander is wanneer jy in ’n vreemde land woon.
Daar is ’n verskil tussen alleen wees en eensaam wees. Alleenheid kan soms ’n keuse wees—’n tyd van rus en nadenke. Maar eensaamheid en isolasie kan ’n mens se hart swaar maak. Daarom is ek so dankbaar dat my kind by ’n wonderlike plek werk. By ASML, waar hy as meganiese ingenieur werk, het hy nie net ’n loopbaan gevind nie, maar ook ’n gemeenskap. Sy kollegas het begin om vriende te word. Hulle klink na ’n wonderlike kosmopolitiese groep mense wat saamwerk, mekaar ondersteun en ook soms sosiaal saam kuier. Dit maak ’n ma se hart rustig om te weet haar kind is nie alleen nie.
Skrywersnuus—’n Nuwe hoofstuk neem vorm aan
Selfs terwyl ek hierdie wonderlike tyd in Nederland beleef, gaan my skryfwerk voort. Ek gebruik ook hierdie dae om aan die Engelse teks van “Olifant op ’n sweefstok” te werk. My doel is om dit gedurende my laaste paar dae hier in Nederland so ver moontlik af te handel.
Wanneer ek terugkeer Suid-Afrika toe, wag daar ook verdere werk aan die volgende boek. Ek het reeds Annerle Barnard se leesverslag ontvang met haar waardevolle kommentaar en aanbevelings oor “Val en Sweef”. Ek gaan gedurende Augustus en September intensief daaraan werk.
Teen die einde van September wil ek dit aan my uitgewer stuur. Daarna sal dit na die finale proefleser gaan, terwyl ons ook begin werk aan die voorblad en agterblad. Die publikasie is steeds op koers vir Februarie/Maart 2027. Dit is ’n lang pad om ’n boek die wêreld in te stuur, maar elke stap daarvan is deel van die groter droom.
Cornelius, Benevolence Stay en die liefde wat wag.
So heerlik soos hierdie tyd saam met my seun is, so baie verlang ek na my geliefde Cornelius. Ek mis hom soms amper tot ’n hartstilstand. Dit is ’n vreemde ding van liefde: mens kan op een plek vol vreugde wees en terselfdertyd iemand anders diep in jou hart mis. Terwyl ek hier in Nederland is, hou Cornelius die fort in Stellenbosch.
Ons geliefde Benevolence Stay—The Stellenbosch Way doen uitstekend onder sy bestuur. Die besprekings kom fluks in en ons is ongelooflik dankbaar dat ons tot dusver net volpunte-resensies ontvang het.
In die Menu-gedeelte hierbo is die skakel en SnapScan-skakel beskikbaar. Gaan loer gerus daarna en stuur dit asseblief aan vriende en familie wat graag in die Kaap of Stellenbosch wil kom vakansie hou of net vir ’n naweek wil wegkom.
Cornelius is ook steeds besig met sy CorLanie-houtbesigheid. Met die Kaapse winter wat nou in volle swang is, is daar ’n groot behoefte aan droë kaggel- en braaihout.
Ek het hierdie reis geniet, maar ek het ook ’n belangrike besluit geneem: Ek wil nie weer sonder my geliefde reis nie. Ons volgende reis sal saam wees, en ons droom daarvan om na ’n eiland te gaan.
Ons Belofte-seremonie
Nog ’n besondere gebeurtenis waarna ons uitsien, is ons Belofte-seremonie op 27 April 2027. My dogter het vir ons ’n pragtige Save-the-date-video gemaak wat ons in September 2026 gaan uitstuur. Ons sien daarna uit om al ons familie en vriende bymekaar te hê om saam met ons hierdie liefde te vier en te bevestig. Ons beplan dit met soveel vreugde.
Ons leef steeds in diepe dankbaarheid vir ons Hemelse Vader se Genade-wonderwerk—die manier waarop Hy ons op 4 April 2024 weer bymekaar gebring het. Meer as twee jaar later groei ons liefde steeds. Dit word sterker, dieper en groter. Dit verbreed, verdiep en groei elke dag in kapasiteit.
Die geskenk van vandag.
Hierdie tyd in ’n vreemde land het my weer geleer hoe belangrik dit is om werklik binne-in die oomblik te leef. Wanneer mens die verlede in die Here se vergewings Genade plaas en die toekoms in Sy Hande toevertrou, bly die huidige oomblik oor as die grootste geskenk. Wanneer mens teenwoordig is in ’n oomblik, maak jou brein dit vas as ’n herinnering. ’n Plek waarna jy later kan terugkeer—selfs jare daarna. In ’n wêreld waar baie mense vasgevang bly in spyt en skuld oor dinge wat hulle nie kan verander nie, het ek geleer dat hierdie emosies dikwels nutteloos is. Die verlede kan nie verander word nie. Maar vandag kan geleef word.
Ek dink aan daardie pragtige waarheid uit Kung Fu Panda: “No use living in the past or future. Living in the moment is a gift. That is why it is called ‘the present’.”
En soos Meester Oogway ons ook herinner: “Yesterday is history, tomorrow is a mystery, but today is a gift. That is why it is called the present.”
Miskien is dit wat reis ons uiteindelik leer.
Dat die wêreld groot is, maar die belangrikste dinge bly klein en is prysloos: ’n Omhelsing by ’n lughawe.’n Gesprek met ’n vreemdeling.’n Koppie koffie by ’n straatkafee.’n Film saam met iemand wat jy liefhet.’n Stil oomblik in ’n kerk waar jy weer bewus word van God se teenwoordigheid.
Reis verander mens. Dit leer jou nederigheid. Dit leer jou dankbaarheid. Dit wys jou hoe kosbaar mense, plekke en herinneringe is. Maar die grootste geskenk van enige reis is dalk nie die plek waarheen jy gaan nie. Dit is die liefde en mense waarna jy terugkeer. Met ’n hart vol dankbaarheid kom ek binnekort weer huis toe. Na my land. Na my liefde. Na my mense. En steeds met die wete: Elke dag is ’n geskenk. Leef dit. Koester dit. Wees daarin teenwoordig.
Liefde en seën,