NUUSBRIEF 3 JULIE 2023

Ek hoop julle almal het nou al die Lokprent (Booktrailer-video) ‘n hele paar maal gekyk en dat dit julle gemotiveer het om: Olifant op ‘n sweefstok aan te koop? Bestel sommer nou terwyl jy op jou foon besig is die link is: https://naledi.co.za/product/olifant-op-n-sweefstok/ gaan kyk ook op Instagram na die reels en stories. Deel dit met jou kontakte en
share vir my op Facebook as jy kan. Enige blootstelling is goeie blootstelling. Afrikaanse fiksie het die ondersteuning baie nodig en debuut-skrywers soos ekself des te meer.

Die nuus vandag is GROOT: In die koerante, Nasionale nuus-blaaie, Die Burger, Die Beeld en Die Volksblad is daar ‘n uitstekende resensie oor Olifant op ‘n sweefstok – gedoen deur Anschen Conradie. Soos met enige resensie sal daar positief wees sowel as negatief. Die positief is wat my aanbetref 90% en die negatiewe 10% is net enkele taal gebruik wat
volgens die resensent inkonsekwent is. Ek neem kennis en as debuut skrywer kan ek net baat vind by hierdie opbouende kritiek om nie dieselfde foute te maak in die vervolg nie.

In die koerante word die boek as Jeug fiksie 16+ geëtiketteer. Wat in ‘n mate waar is maar die roman is vir almal bo 16jaar. Daarmee wil ek dit stel dat daar dames en here is wat ek weet al die boek gelees het van verskillende ouderdomme wat strek tussen 30 – 85 jaar. Ja
my oudste leser is inderdaad ‘n wonderlike buurvrou van in die tagtiger-jare.

Olifant op ‘n sweefstok beskryf aan jonk en oud om weer te onthou, dalk te leer en saam die karakters in die boek weer te ervaar hoe dit voel om verlief te wees. Daardie vlinders-in-die-maag-loop-op-wolk-nommer-nege-gevoelens wat mens nét het of nie het nie. Wanneer jy in die teenwoordigheid is van daardie persoon wat ál jou chemiese balanse in jou lyf deurmekaar skommel. Dis die vanself-glimlag om jou mond as hy of sy deur jou brein draf. Die asem wat jy vergeet om te vat as jy hom of haar sien aankom…

Ek wil met Olifant die leser laat onthou, herinner en dalk selfs weer leer om te weet ekstase het nie ‘n vervaldatum nie en om verlief en lief te raak het ook nie ‘n ouderdomsbeperking nie. Die liefde is die sweefstok – dis riskant ja. Gaan jy na enige een wat verby swaai toe spring? Nee. Is die persoon aan die ander kant in staat om jou raak te vang? Daar is geen waarborge nie. Meestal is daar nie ‘n veiligheidsnet onder jou nie. Tog, die absolute vryheid en emosionele ekstase al is dit net vir daardie split-sekondes in die lug tussen sweef en val, tussen vang en die vaart aarde toe, sal dit altyd werd bly.

Luister ook Donderdag 6 Julie Tygerberg Radio 104 fm om 10h-10.30h my onderhoud live op radio wanneer ek praat oor Olifant op ‘n sweefstok en daar is ‘n boek te wen vir luisteraars!

Ek is volgende week 11-14 Julie in Bloemfontein by die Vrystaat se Kunstefees. Ek is Vrydag 14 Julie 10.30h in die ATKV-Boeke-Oase (die Eeufeessaal op kampus) en praat met Mathildie Smit (van die Dept Afrikaans, Nederlands, Duits en Frans) Gaan na die volgende
link en koop ‘n kaartjie of kom koop ‘n kaartjie by die deure:
https://indd.adobe.com/view/ae3ae168-197e-4dfe-9fba-d4cbc435310e die program se link en bladsye 77/78 scroll net deur. https://vrystaatkunstefees.co.za/programme-program-
2023/ kliek op Literatuur-fees.

Tot volgende week en dan nuus vanuit Bloemfontein!