NUUSBRIEF 29 OKTOBER 2025
LIEWE LESERS
Oktober die mooiste maand. Ook die maand waarin my geliefde oorlede pa, Carel Roode op 26 Oktober 1945 ’n ronde 80jaar sou geword het. Hy is oorlede 8 September 2018 en ek mis hom elke dag. My pa was en sal altyd my rolmodel wees. By hom het ek soveel geleer. My pa was “gestrem” en die rede waarom ek dit in aanhalingstekens plaas, is omdat hy nooit toegelaat het dat dit hom stuit nie. Met geboorte het sy een kant skade gekry as gevolg van die instrumente wat hulle daardie tyd gebruik het. Sy linkerkant was onder-ontwikkel, fisiek sowel as organies. Hy het kruppel geloop en moes twee pare skoene koop. Een nommer tien en een nommer agt. Die nommer agt moes opgebou word. Nooit het hy met ’n loopstok of kierie gestap nie. Hy het daagliks met pyn saam gelewe. Sy nek, rug, arm, been , voet en enkel was deurlopend seer. Tog het ek hom nie hoor kla nie. Hy was positief en sy determinasie dat niks hom gaan onderkry nie was net een van die baie goed wat ek van hom bewonder en nagestreef het.
My pa was vir elkeen wie se lewe hy aangeraak het ’n inspirasie. Nie alleen het ’n dokter toe hy op hoërskool was vir my ouma (sy ma) gesê dat hy nie lank gaan lewe nie, maar ook dat hy sekerlik nie verder as matriek gaan vorder nie. My pa het tienerseun daardie woorde onthou en vir dié dokter gesê: “ Ek kan en ek wil en ek sal. Ek sal eendag vir jou my graad kom wys!” En hy het. Na matriek het hy chemiese ingenieurswese gaan studeer by Potchefstroom. Hy het die graad behaal asook sy B.Com graad daarna. Hy is geakkrediteer as ’n professionele ingenieur en was jare in die mynwese. Hy was ook een van die jongste Algemene Bestuurders van Gencor se Platinum aanleg: Mineral Processes in Rustenburg. Hy het ook inderdaad daardie einste dokter wat die “uitspraak” oor sy lewe gemaak het (of die gebrek aan ’n lewe) weer besoek. Nooit ooit moet daar aan ’n kind of tiener—’n mens gesê word deur enige iemand dat hy of sy beperkinge het nie. Nee, ek het nog elke dag vir my eie kinders asook myself gesê: “Ek/jy het géén beperkinge nie.”
Dit alles kom saam met geloof soos ’n kind. Ek dien ’n God van Wonderwerke. ’n God vir Wie NIKS onmoontlik is nie. Soos ek in my September-nuusbrief gesels het: Ja, die lewe kom met sy eie “shit happens”. Daar is inderdaad teleurstellings in ons almal se lewe. Alles gaan nie altyd nét goed nie. Dít is nie moontlik nie. Tog, is dit altyd moontlik om ’n positiewe gesindheid te handhaaf. Die vertroue en die sterk staan op Sy Beloftes in Sy Woord. Ek besef al hoe meer in my eie lewe hoe perfek my Vader in elke detail van my lewe betrokke is. Hoe Hy in die tydsverloop is. Hoe hy soos my ma al male sonder tal vir my vertel: “God ken die einde van die begin af.” “God is alreeds daar voor in die pad”, soos my geliefde Cornelius en lewensmaat dit ook baie aanhaal. “Daarom gee ons nie moed op nie.” (2 Kor. 4:16)
In hierdie maand van Oktober en November 2025 het ek Olifant op ’n sweefstok begin vertaal na Engels. Die opvolg daarvan: Val en Sweef is tans by my tweede proefleser. Sodra ek dit van haar af terug ontvang doen ek die veranderinge, verbeteringe en ook bywerkings asook, en die moeilikste: “kill-your-darlings”. Weglatings/”Delete”. Dan wil ek Val en Sweef ook in Engels vertaal. Ek gaan dalk uitstel vra op die publikasie van Februarie of Maart 2026. Die rede hiervoor is juis die feit dat ek die boeke(stories) wil vertaal. Ek geniet dit om in Afrikaans te skryf. Ongelukkig is die wêreld Engels. Die groter en veral die internasionale mark is Engels. As ek enigsins iewers wil begin geld maak met skryfwerk, sal ek noodwendig in Engels moet begin publiseer. Ek wil ook vanaf Januarie 2026 hierdie nuusbrief in Afrikaans sowel as Engels plaas. As ek my boeke/stories in een of albei van die volgende platforms kan kry, sal dit vir my as mens, my skryfwerk begin winsgewend maak. Skrywers kan ’n lewe uit hulle boeke maak, wanneer hulle: 1. Die boeke in die skole kan kry. 2. Dit vertaal kan kry in meer as een taal. (Soveel tale as moontlik) Ek weet my stories is meer as net ’n “warm romanse” Dit gee ’n kykie op hoe die lewe uitspeel in ’n sekere stel omstandighede. Hoe jongmense dink. Die wisselwerkinge tussen persoonlikhede. Die dinamiek tussen goed en kwaad. Hoe verskuilde agendas en geheime, persoonlike verhoudinge kan skaad—vernietig—onherstelbaar verbrokkel. Dat vriendskappe in stand gehou moet word.
Verhoudinge/huwelike vereis harde werk. Om aan dieselfde kant van die tou te trek en jou gewig in te gooi, een honderd persent. Dit help nie een party gee net twintig persent die ander tagtig nie. Die balans kan dan nooit uitwerk nie. Tog, is nie elke party elke dag op ’n plek van selfs vyftig persent nie. Dis dan wanneer mens ná mekaar toe werk. Vandag gee ek tagtig want jy het net twintig in jou “tenk”. Môre werk dit dalk weer andersom. Oormôre is ons albei dan weer op 50/50- en 100/100-%. Dis ’n “give-and-take” en soms is dit net ’n “give-give-give”… Solank daar ten alle tye waardering en respek binne-in die “mix” is en die balans weer herstel word. Dan is dit ’n wen-wen.
Vir die eerste maal in my lewe is ek in só verhouding. Ek is oneindig dankbaar vir hierdie liefde wat ek so onverdiend en gratis uit my Vader se Hand kon ontvang. Vir Cornelius is dit presies dieselfde. Ons dankbaarheid om in totale afhanklikheid van Hom wat ons bymekaar gebring het deur Sy Divine Appointment en Divine Intervention sal regdeur ons lewe ons getuienis bly. Eers wanneer mens deur die vuuroond gelouter is, sewe maal om die berge moes stap waardeer mens hierdie Guns en Liefde ten volle.
Ek is in Stellenbosch die res van November en Desember. Cornelius kom bly by my een week in November en een week in Desember. My seun kom kuier vir ’n maand vanuit Nederland vir die hele Desember. Hierdie Kersfees het ek AL my kinders en my ma by my. Dit is “peak season” by die ATKV Buffelspoort waar my geliefde werk. Hy gaan moet werk. Ons hoop en glo hierdie is die laaste Kersfees wat ons apart van mekaar sal hoef te wees. Ek vertrek weer einde Desember tot middel Januarie na hom toe. Ons vertrou ons Vader om alles ten goede vir ons te laat meewerk om eendag gou-gou permanent bymekaar te kan wees. Ek laat julle dan ook met hierdie vers: Romeine 8: 28 “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens Sy besluit geroep is.”
Mag November vir julle almal ’n goeie, mooi maand wees. Wees bedag op die “Black November-specials” Moet nie iets koop net vir koop nie, máár as dit nodig is, en dit die Kersgeskenk-lysie meer ekonomies maak, kapitaliseer daarop!
Groetnis en vele seënwense!


In langer tye leer mens om saam te leef met die elke dag uitdagings van: huis, werk, kinders, kosmaak, herstelwerk, diere versorg, selfversorging, lees, tv-kyk, goeie dae en buie, slegter dae vanaf: “not a good-hair/skin-day” tot fantastiese dae wat goeie nuus bring, maar ook die dae van hartseer en teleurstellings, dinge wat nie uitwerk nie, gewone inkopie-dae, die sleep-my-voete-dae, die dans-dae en alles tussen-in. Die wonderlikheid is dan, om te besef: ons is netso sterk en lief vir mekaar as in die wittebrood-tyd. Ons liefde groei, verdiep en verbreed. Dis ‘n gemaklike, rustige, companionship & liefdesverhouding waarin romanse en vriendskap gebalanseer word met die vaste fondasie wat ons het vanaf skooldae af. Tog ook ‘n volwasse wysheid en lewenservaringe, wat ons moes meemaak deur die woestyne en oerwoude van later in ons lewens. Dit alles bring ons by die mense wat ons vandag is. Die littetekens is nie iets wat ons definieer nie, dit wys net wat ons oorleef het. Bo alles het ons ‘n God in die Hemele wat tyd, plek en geleentheid bymekaar plaas. My geliefde se woorde wanneer ek gespanne raak oor die toekoms, boekverkope, kinders, tyd, geld en alles wat mens kan oorweldig is altyd: “Onthou die Here is reeds daar voor! Hy kry jou daar.” Dan haal ek weer asem. Ek gee oor aan ‘n Vader wat alles in Sy Hande hou en werk voort soos Hy ons in Sy Woord beveel.
Gaan ‘n sielkundige/onderwysers, skoolberader en leser raaklees dat “toxic personalities” aangespreek en uitgewys word vir lesers wat: “Olifant op ‘n sweefstok” en die Opvolg: “Val & Sweef” deurllees? Dit waaraan ek só hard werk, om die verskillende karakters se persoonlikhede te ontwikkel. Dat dit identifeerbaar sal wees vir die fyn-leser wat dan die: People Pleaser, die Rebel, die Perfektionis, die Empaat, Egoïs, Narsissis, Introvert, Ekstrovert, Ambivert, Choleriese, Melankoliese, Flegmatiese en Sanguisniese -persoonlikhede sal raaksien? Dit hulle meer sal leer van ander en van hulleself.