NUUSBRIEF 26 FEBRUARIE 2026
Liewe Lesers,
Februarie het met warm, helderblou energie in die Kaap aangekom. Dae vol sonbril- en sonskerm hittegolwe, maar ook dae waarin werk, drome en stille groei saamvloei. Ek sit weer hier en skryf met ’n hart wat besig is om baie dinge gelyk te dra. Stories wat vorm kry, nuwe planne wat begin wortel skiet, dankbaarheid vir mense en oomblikke wat hierdie reis ligter maak.
Die redigering van die opvolg, Val en Sweef, is nou behoorlik aan die gang. Ek gaan waarskynlik die res van Maart nog diep daarin wees. Fynwerk, hersienings en daardie stil konsentrasie wat ’n storie nodig het om werklik te land. Intussen is ons ook in onderhandeling met die finale redigeerder vir Val en Sweef—die plan is om dit teen die einde van Maart aan te stuur. Dis altyd ’n besonderse oomblik wanneer ’n manuskrip begin beweeg na sy volgende fase.
Die vertaling van Val en Sweef lê ook vir einde Maart begin April voor. Ek sien uit om dit aan te pak—om weer deur die storie te reis, maar op ’n ander manier, in ’n ander taal, met dieselfde hartklop daarin.
“’n Storie verander nie sy siel wanneer dit vertaal word nie—dit leer net om in ’n nuwe stem te asem.”
Soos dit maar gaan met ’n skrywer: daar broei en groei reeds nuwe stories in my kop. Fragmente, karakters, tonele wat onverwags kom aanklop. Ek voel daardie bekende kreatiewe krag om weer aan iets nuuts te begin werk wanneer die tyd reg is.
Om my skryfwerk en drome prakties te ondersteun, is ek ook besig om die oop kamers in my huis beskikbaar te maak vir huurders deur ’n paar nodige renovasies. Dis harde werk, maar ook opwindend om ’n huis weer vars asem te gee.
My geliefde Cornelius het selfs langverlof geneem om my daarmee te help. Ek is oneindig dankbaar vir hom. Daar is iets besonders aan iemand wat saam met jou bou—letterlik én figuurlik.
CORLANIE HOUT beweeg ook stadig maar seker vorentoe. Party dae voel ons amper soos Noag van ouds—stukkie vir stukkie, hou vol, werk voort, glo aan wat kom. Midde hierdie hitte in die Kaap is ons besig om hout bymekaar te maak vir die Wes-Kaapse winter. Ons staan in geloof dat wanneer die Kaap koud en nat raak, Kapenaars weer hul vure sal wil aansteek—en dat hulle hout by ons sal koop. En nie net enige hout nie—droë bosveldhout.
Want elke Kapenaar weet: net een ding is erger as géén hout nie… en dit is nat hout. Cornelius se hout is droog. Dit maak heerlike braaivleisvure, maar die mooi tweesydigheid daarvan is dat dit ook uitstekende, langbrand-kole maak vir kaggelvure in die winter. Dit hou langer en dra verder as baie van die houtsoorte wat mens hier in die Kaap kry.
Die terugvoer van die paar vriende wat reeds kom koop het, maak ons harte warm:
- Dit is goeie braaivleishout.
- Dit is droog.
- Dit maak uitstekende kole.
- Mens kan langer braai en hoef nie ’n kuier af te jaag nie, want die vuur hou. Hierdie soort terugvoer beteken vir ons baie.
Vanaf 27/28 Februarie sal CORLANIE HOUT ook beskikbaar wees by die AgriMark Stellenbosch se Deli-koffiewinkeltjie. Wanneer jy by die Deli in AgriMark die heerlikste pasteie in die dorp gaan koop—koop sommer ’n sakkie CORLANIE Hout saam met jou pasteitjies.
As romantikus was Valentynsdag vir my ’n besonderse dag. My geliefde was by my en ons het saam tyd spandeer. Lekker soet wafels gaan eet by Milky Lane en daarna ’n fliek gaan kyk by Ster-Kinekor — Wuthering Heights. Dit was nogal ’n swaar film vir ’n ligte dag. Steeds goed, maar nie ’n soort verhaal wat uit my eie pen sou vloei nie.
Ons het ook ’n draai gaan maak in die Cape Agulhas Nasionale Park. Wat ’n heerlike kort wegbreek! Ons is bederf met sonsondergange wat gevoel het asof dit met ons Vader se verfkwas oor die lug geskets is—kleur op kleur. Ons het vissies, krappies en seesterre in die laagwaterpoele tussen die rotse gaan kyk. Lang ente op die strand en klippiesstrande gestap, en selfs teen ’n duin gaan lê net om na die see en wolke te kyk.
Cornelius sê altyd: “Ons spandeer tydsaam tyd saam.” En dis presies wat ons doen in daardie kort, kosbare rustye saam.
Nou is ek weer terug in die tuig, besig om saam met Edit van: Val en Sweef. My gedagtes dwaal gereeld terug na daardie tydsame tyd. Ek koester dit. Ek leef in afhanklike dankbaarheid vir ’n Goeie Vader in die Hemel wat dit aan ons gun in Sy genade.
Die gedeeltes wat hierdie Februarie maand vir my uitgestaan het in Sy Woord, is Psalms, Job, Romeine en Deuteronomium. Dit herinner my weer: God laat dinge gebeur volgens Sy wil en in Sy tyd. Hy maak deure oop wat geen mens kan sluit nie. Ons staan op die Beloftes van ’n regverdige en geregtige God wat reg laat geskied aan Sy kinders—aan die wat Hom kies en volg.
Mens voel soms dat dié wat jou seergemaak het floreer, beheer uitoefen, of steeds op ’n manier aan die toue trek waarvan jy so graag wil loskom. Dan bid mens soos Dawid: “Here, hoor tog my gebede, sien my onrus raak…” Dan antwoord Hy weer en weer—soos in Jeremia 32:27: “Ek is die Here, die God van alle mense. Sou iets vir My te wonderbaar wees?”
Wanneer ek weer Deuteronomium 28 lees, die opdrag in Deuteronomium 30:19 om LEWE te kies, word mens stil. Ook Romeine 2:9 herinner my dat daar verdrukking is vir die wat kwaad doen, maar eer en vrede vir die wat goed doen. Daar is ook troos in die woorde van Romeine 12:19 en Deuteronomium 32:35: dat die vergelding aan die Here behoort. Vergifnis is joune om te gee.
Ek het onlangs ’n mooi woord raakgelees: “GODFIDENCE” — ’n stil, onwankelbare vertroue wat in geloof gewortel is. Die wete dat jy nie alleen stap nie. Dat God se tyd beter is as jou eie. Dat jy kan staan omdat Hy reeds voor jou uitgaan.
Dis iets wat Cornelius al baie vir my gesê het wanneer ek oorweldig voel of begin tol in ’n “spiral” afwaarts ’n duisternis in: “Onthou my Lieweling, God is alreeds daar voor in die pad.”
Op hierdie mooi noot groet ek julle vir Februarie. Mag Maart vir julle ’n maand wees waar God se deure wyd oopswaai. Waar die begeertes van julle harte wat Hy ken en verstaan begin vorm kry, en waar julle onthou: wat ook al voel asof dit téén jou staan—Hy wat binne-in jou leef is groter as enigiets buite jou.
Always choose to RISE.
Met liefde en dankbaarheid,