NUUSBRIEF 27 APRIL 2026
Liewe Lesers,
April het stilweg sy koel hand oor Maart se hitte gelê—en toe, sonder waarskuwing, het die koue ingetrek. Herfs het aangebreek met daardie skielike skerpte in die lug wat jou laat die komberse, truie, dik sokkies en jasse laat nadertrek. Herfs bly vir my ’n seisoen van inkeer en ook van herinner.
Te midde van hierdie veranderende weer het die lewe sy eie ritme bly hou.
My webtuiste-bestuurder (Aeon Wolf), het in die huwelik getree—’n dag deurweek van reën, koue en tog… soveel warmte. ’n Groot familie, verweef uit en met Libanese, Afrikaanse en Engelse wortels. Almal het byeen gekom soos ’n lewende tapisserie van liefde en geskiedenis. Die seremonie was in sopnat weer, ja—maar soos die aanhoudende reën is dit diep, eg, en onmiskenbaar gedra deur iets groter as die weer. Liefde, lojaliteit, vriendskappe deur dekades en ’n onmiskenbare geloofsvertroue in die krag van daarwees vir mekaar.
Die toesprake het nie net gevier nie… dit het onthou. Sagte huldeblyke aan dié wat daar was, en dié wat reeds vooruitgegaan het. Veral die bruidegom se pa—te vroeg, te skielik weg—se afwesigheid het soos ’n stil leë stoel tussen ons almal gesit. Tog was hy dáár—in elke woord, elke traan, elke lag wat deur pyn gebreek het. Liefde bly. Selfs wanneer iemand nie meer fisies teenwoordig is nie.
“To be loved, and to be loved in return, is the quiet miracle that makes everything else bearable.”
Tussen die reënval en herinneringe deur, bewys liefde weer en weer sy kragtige werking.
Vandag op 27 April vier ek en Cornelius ons herdenking. ’n Dag wat apart en omsirkel in ons harte lê. Twee jaar later, en steeds voel dit soos daardie eerste oomblik. Ons beplan nou ’n: Belofte-aflegging voor-die-gemeente-plegtigheid op 27/04/2027—’n openbare viering van dit wat reeds voor God verseël is. Op daardie dag sal ons, ons beloftes aan mekaar ook met familie, vriende en almal wat saam wil getuig, sal deel. Dieselfde liefde. Dieselfde oorgawe. Net wyer oop.
My verjaarsdag op 14 April 2026 was ’n dag vol lig—koek, koffie, vonkelwyn en mense wat my lewe kleur gee. Ek het nie geskenke gevra nie… net steggies. Klein lewende stukkies uit elkeen se tuin. En nou groei hulle—saam geplant—met die oog op volgende jaar se seremonie. Ons tuin wat stadig besig is om ’n ruimte te word waar liefde gevier sal word. Waar beloftes weerklank kry.
Mei wink reeds met reise—na die Noord-Wes Provinsie, na huise, na broers en susters, na moeders. Ons trek weer die drade tussen provinsies bymekaar. Die Wes-Kaap is ons tuiste, maar die ander paaie roep ook tussen-in vir aandag.
Daar is ook ’n reis wat moontlik wag—na my seun in Nederland. Ek is nie ’n goeie reisiger nie—ek hou inteendeel niks van reis nie. Ek is ’n huishen in wese. Tog weet ’n mens party dinge sonder rede. ’n Ma weet wanneer dit tyd is. Dalk vir hom. Dalk vir haarself. Die Here fluister daardie dinge in ’n moeder se hart. En wanneer Hy roep… antwoord mens.
Vir een mens om te reis is bekostigbaar. Vir twee of meer—dan raak dinge duur. Daarom is die besluit dat intussen word die fort gehou deur my geliefde Cornelius—saam met ons kosbare Margaret Booysen—dit hou die ritme van ons Air B&B bly aan die gang as-wanneer hierdie moeder die reis oorsee aanpak. Dankbaar vir hierdie vryheid en voorreg!
Ek en my geliefde leef daagliks uit Sy Genade en Guns. Dit is God wat ons uitgehaal het uit dit wat ons nie verder kon dra nie. Hy wat ons, sonder ons eie toedoen, bymekaar gebring het—36 jaar ná skool. ’n Goddelike afspraak. ’n Liefde wat gegee is uit Sy vrygewige Hand—net omdat Hy kán!
My skryfwerk bly een van my ankers én my vlerke. Val & Sweef, die opvolg van Olifant op ’n Sweefstok, is op pad Bloemfontein toe waar Annerle Barnard ’n leesverslag gaan doen ter voorbereiding vir publikasie. Die Engelse titel wag nog om gebore te word—en ek nooi julle om saam te dink. Stuur gerus voorstelle na my e-pos: (lelanieroode@gmail.com) Julle stemme beteken vir my baie.
Die Engelse vertaling roep ook—saam met die draaiboek vir die boeklokprent wat daarna geskiet sal word. Agter die skerms bly ek besig om die tweede redigeerder se terugvoer te verfyn, met die mikpunt om teen 1 Junie te lewer. Die publikasiedatum bly vloeibaar—maar ek hou julle naby in elke fase.
Liewe lesers, dankie dat julle saamreis—deur woorde, deur seisoene, deur alles wat groei en verander.
Mag Mei vir julle ’n maand wees van volharding en stille krag. Ook die oproep van mooi herinneringe en die koestering daarvan.
Mag julle aanhou. Mag julle uithou. En mag julle altyd weer opstaan. Ek groet julle met twee inspirerende aanhalings uit my hart, gegraveer in my brein.
“Life is like riding a bicycle. To keep your balance, you must keep moving.” (Albert Einstein)
“Healing doesn’t mean the damage never existed. It means it no longer controls your life.” (Edith Eger)
Met liefde, gebed en seënwense. Mag God se Guns julle dra—sag, seker en
elke dag.
Groetnis,

Dit was vir my só sprekend van God se Beloftes in Sy Woord. Mens worstel soms met soveel vrae sonder konkrete antwoorde. In my swem-tyd, wat ook my bid-tyd is vra ek al daardie vrae? Bid ek vir antwoorde. Dan wanneer die antwoorde nie menslik-dadelik kom nie, stuur ons Vader Sy Reënboog! Dan is dit asof daardie onbeskryflike Vrede en vreugde binne-in my weer neerdaal en opwel, wat vir my sê: “Wag geduldig. Wees dapper, wees sterk. Ek gaan voor jou uit.” Ek het dit vanoggend weer gekry in Sy Woord: 1 Kronieke 12:18 & 13:10-16 en ook Genesis 21:22: “God is by jou in alles wat jy aanpak.”