NUUSBRIEF 23 DESEMBER 2025
LIEWE LESERS,
Desember het sag, maar vol belofte ingestap —’n maand wat altyd soos ’n asemteug voel tussen afsluit en begin. Kersliggies flikker al vroeg, en 2025 maak stadig sy laaste buiging. Ek skryf vandag met ’n dankbare hart, ’n effense moegheid in die lyf, maar ’n groot verwagting in die gees.
Skryfwerk bly my anker. Ek is steeds besig met die Engelse vertaling van Olifant op ’n Sweefstok. Ek het al gevorder tot by Hoofstuk 26 van 38, en my mikpunt is om dit teen middel Januarie 2026 af te handel. Dit is intens, maar ook besonders—’n storie wat ek nou vir die tweede keer leer ken, hierdie keer in ’n ander taal en ritme.
Intussen het ek Val en Sweef terug ontvang van die redigeerder, en ek staan op die punt om met daardie Editing te begin. Parallel daarmee loop ook die Engelse vertaling van Val en Sweef. ’n Groot maar noodsaaklike proses. Sodra dit alles afgehandel is, gaan die opvolgboek na die finale en laaste redigeerders: een vir Afrikaans en een vir Engels. As alles volgens plan verloop, mik ons na publikasie in Julie en Augustus 2026.
Daarna—en hierdie gedagte laat my glimlag—beplan ek ’n Boekbekendstelling, heel waarskynlik eerste in Stellenbosch. En ja, die droom strek verder: ’n landwye toer deur 2026–2027, waar ons al vier boeke, hierdie keer in Afrikaans én Engels, weer aan lesers bekendstel. Van dorp tot dorp. Van storie tot storie.
Agter die skerms bly die lewe natuurlik ook aan die beweeg. Ons is steeds in die beplanning vir my geliefde Cornelius se re-location. Moet asseblief nie ophou bid nie—ons hou vas aan God se Woord en Sy beloftes, dat Hy deure oopmaak wat geen mens kan sluit nie. Een van die beloftes wat ek tans styf aan vashou, is Openbaring 3:8: “Kyk, Ek het voor jou ’n deur oopgemaak wat niemand kan toemaak nie.”
Nie alles het egter hierdie jaar uitgewerk soos beplan nie. Die jeugroman wat ek graag voor 31 Desember 2025 wou voltooi, het ongelukkig gesneuwel—bloot weens te min tyd. Tog het iets anders mooi posgevat: ek het my Kinderstories, Kerneelsie Kaskenades, herskryf, verkort en vernuwe, en hoop om dit voor 31 Desember 2025 in te skryf.
Interessant genoeg het ek wel reeds aan die jeugroman begin skryf. Dit handel oor Generasie Z, en die tema lê my na aan die hart. Dit is vir my duidelik ’n storie wat tyd nodig het—en daarom sal ek dit rustig, tussen my ander projekte deur, voltooi.
Met Oukersaand en Kersdag om die draai, is my huis vol lewe. Al my kinders is by my, geskenkies lê en wag onder die kersboom. Ons doen gewoonlik ons geskenke op Oukersaand, en Oukersdag word daar reeds gesny, gekap en voorberei vir die Kersdag-ete. Ek koester dit diep om Kersdag saam met my kinders en my moeder te kan deurbring—’n kosbare seën.
My hart en wese verlang egter ook baie na my geliefde Cornelius, daar ver in die Noordwes Provinsie. Hy werk regdeur die hele Desember, ook oor al die Heilige Feesdae. Tog glo ons met alles in ons dat hierdie ons laaste Kersfees in twee provinsies is.
Dit help dat dit goed gaan met sy Bosveldhout-besigheid. Soos julle reeds weet, noem ons dit CORLANIE—Cor vir Cornelius en Lanie vir Lelanie. Die droom bly lewendig: dat ons eendag deur die land kan reis met ’n kattebak vol boeke en vuurmaakhout. Van plek tot plek, boekbesprekings en praatjies, mense ontmoet, stories deel—en vertel hoe groot en goed God is. Hoe Hy ons twee, ná twee traumatiese egskeidings, deur ’n Divine Appointment bymekaar gebring het. Hoe ’n mens selfs op 55jaar weer van voor af verlief kan raak—dieper, sagter en wonderliker as ooit tevore.
Ons leef in absolute afhanklikheid van Hom. Ons vertrou Hom om al Sy beloftes oor ons lewe waar te maak.
’n Klein, maar belangrike woord van my hart af: Ek kan ongelukkig nie altyd by elke boodskap, e-pos of WhatsApp uitkom nie. Ek het eenvoudig nie die emosionele kapasiteit om daagliks alles te lees en te beantwoord nie. Party boodskappe lê weke in my argiewe—nie uit onverskilligheid nie, maar uit noodsaak. As ek elke dag op alles sou reageer, sou ek nooit by my skryfwerk uitkom nie. Ek vra dit met respek en dankbaarheid: verstaan asseblief dat my stilte nie afwysing is nie, maar soms bloot selfbeskerming en fokus.
Laastens: vanaf Januarie 2026 sal ek my nuusbrief graag in Afrikaans én Engels wil aanbied. Ek sal my beste doen om dit reg te kry.
Ek sluit af met ’n aanhaling vir die nuwe jaar—’n gedagte om saam te dra 2026 in:
“Dreams grow best where faith is planted daily, and courage waters them even when the harvest feels far away.”
Mag hierdie Kersfees vir julle rus bring. Mag 2026 oopvlieg met hoop, lig en nuwe moed.
Met liefde, dankbaarheid en ’n hart vol verwagting!
”You were never meant to stay where you crawled. The cocoon exists because heaven knows you will fly.”