NUUSBRIEF 02 DESEMBER 2025
LIEWE LESERS,
November het soos ’n sagte bries oor my lewe gewaai—vinnig, bedrywig, vol oorvloed, vol dankbaarheid… en ja,ek is so tikkie laat. My opregte verskoning daaroor! Maar wanneer ’n mens se geliefde jou twee keer in een maand kom verras, raak skryfwerk sommer tweedens… en die lewe eerste. Ek koester elke oomblik.
Terwyl die dae langer raak en die jaar sy laaste draai gooi, is ek steeds hard aan die werk met die Engelse vertaling van Olifant op ’n Sweefstok. Dit is ’n groot taak, maar ook ’n vreugde—ek herontdek my eie storie deur ’n nuwe lens. Die opvolg Val en Sweef is byna deur die laaste rondte redigering; ek begin reeds in Januarie aan die vertaling werk. Ons mikpunt? Vier boeke wat in 2026 saam die lig sien: a) Herdruk van Olifant op ’n Sweefstok b) Die Engelse weergawe: Elephant on a Trapeze c) Val en Sweef. d) Die Engelse weergawe. Iets waarvoor ek julle hulp nodig het! Ek soek ’n treffende titel—iets wat met val, swaartekrag, sweef of lig/gewig/vlieg te doen het. Enige iets poëties, pakkend, onvergeetlik. Stuur asseblief jou idees na my E-pos: lelanieroode@gmail.com
Hiermee saam werk ek ook aan navorsing vir ’n nuwe jeugroman oor Generasie Z. Ek wil hierdie storie eg, raak en eerlik skryf—en daarvoor het ek, julle lesers weereens nodig. As jy met Gen-Z werk, met hulle leef, self een is of een grootmaak… stuur vir my jou insigte, waarnemings en eerlike opinies. Jou perspektief gaan die verhaal vorm. Stuur voor op middel Desember want die sluitingsdatum vir die verhaal is einde Desember wat ek dit moet instuur.
Desember het aangebreek, en ek kan letterlik nie wag om my kersboom op te slaan nie—iets in my hart wil hierdie jaar glo, hoop en vier. Dit was ’n goeie jaar! Daar is soveel is om na uit te sien. My moeder kom kuier. My seun kom al die pad uit Nederland vir ’n hele maand kuier. ’n Kersfees om te koester. Ons almal, weer saam. Ongelukkig moet my geliefde in Noordwes werk oor die Kersseisoen, dit is natuurlik hoog-seisoen by die ATKV Buffelspoort waar hy werk. Tog, die familie-oomblikke gaan spesiaal wees.
Ons glo ook hierdie is die laaste Kersseisoen wat ek my geliefde apart moet deurbring. Ons werk aan sy “re-location” so gedurende 2026. Bid saam met ons dat dit so vir ons twee kan uitwerk? Ek is in Noordwes vanaf einde Desember tot middel Januarie, waar ons weer vir ’n rukkie saam kan wees. Ons werk so hard om ons sirkel kleiner te maak. Soms voel dit of ons Vader vir ons fluister: “Net ’n bietjie langer. Ek is besig met die plan.” En in daardie rus probeer ons leef, glo en bou.
Daar is nóg vreugdes wat blink: my sussie se dogter trou binnekort—’n groot, kosbare mylpaal vir ons hele familie. Dan neem my geliefde my vir ’n aand uit Monte Casino toe vir The Nutcracker. Julle weet ek is ’n ballet-entoesias van formaat. Ek dink ek tel al van November af die slaap-dae af tot die gordyn oplig
Praat van bou: My geliefde het begin hout verkoop! Ons besigheid het nou ’n naam: CORLANIE Bosveld Vuurmaakhout — ’n kombinasie van twee harte, twee name, en hopelik binnekort twee toekomsdrome wat in een kraal loop. Hy verkoop hout. Ek skryf boeke. En saam droom ons van ’n lewe waar ons kan rondreis en toer. ’n Motor vol storie-romanses en bosveld-hout, boekpraatjies onder sterrehemels, ’n klein vuurtjie wat knetter, ’n glasie wyn, en ’n vleisie wat sy geur saam met ons stories deur die land vloei. Mag dit ’n “veldbrand” aan die brand steek waarmee ons besig raak.
Vriende vra al grappenderwys: “Hoeveel hout moet ons koop om jou en jou geliefde permanent bymekaar te kry?” Die antwoord? Genoeg om ’n vreugdevure te bou wat ons toekoms warm hou en genoeg om ’n droom te help dra. Ons kleinsake-idee is eenvoudig, nederig, maar gebou op ’n groot God. Ons vertrou Sy beloftes—veral Sy beloftes van Hoop.
Ek sluit hierdie maand af met ’n vers wat die Here vir my onlangs gegee het toe dinge maar hak-hak gegaan het met talle huis-uitgawes en ander moeilike probleme wat opgelos moes word. Sagaria 9:12 – “Die Here sê: Ek belowe dat Ek julle dubbeld sal vergoed vir al julle swaarkry.” Dit is my anker van die maand. My belofte. My lied.
Mag November vir julle ook lig bring. Sagtheid. Nuutskepping. Die wete dat ons almal, hoe verskriklik vol die dae ook al raak, deur ’n Vader geliefd, gehou, gesorg, beskermd en voorspoedig gemaak word.
Met liefde, dankbaarheid en ’n bos vol seënwense