NUUSBRIEF 28 MAY 2026
Liewe Lesers,
Mei het opgedaag in volkleur-herfs. Die bome begin stadig hul goud, roes, koper en amber loslaat asof selfs die natuur verstaan dat daar tye in ’n mens se lewe kom waar loslaat nie verlies beteken nie… maar voorbereiding vir iets nuuts.
Hier by ons huis in Stellenbosch het die maand met stof, bouplanne, verfkwaste en restourasie aangebreek. Daar word uitgebrei aan ons AirBnB met ’n ekstra badkamer, en ook ’n nuwe gastekamer vir wanneer kinders kom kuier. ’n Huis leef saam met sy mense. Mure hou herinneringe vas, gange hoor lag, en kamers wag geduldig vir die terugkeer van geliefdes. Dis harde werk, ja—maar ook die soort moegheid wat uit dankbaarheid gebore word.
Mei was ’n besige maand van vlieg, paaie ry en tasse pak. Ons het vir tien dae na Noordwes gereis om ons moeders gedurende die Moedersdag-naweek te sien. Ons het ons tuisdorp Rustenburg besoek, saam ou skoolvriende gekuier. Daar is iets besonders aan die terugkeer na plekke waar jou wortels lê. Mens ontdek hoe sekere strate steeds jou naam onthou, hoe ou vriende altyd deel bly van jou storie, maak nie saak hoeveel kilometers en tyd tussenin lê nie.
Ons commuting-dae tussen provinsies is gelukkig verby, maar die werklikheid van twee huise wat steeds aandag, instandhouding en verantwoordelikheid vra, bly deel van ons lewe. En tog… op ’n vreemde manier trek ’n mens die los drade weer bymekaar wanneer jy terugkeer. Dinge wat oopgelaat was, vind dikwels hul eie stil afronding.
Moedersdag vanjaar het warm in my hart kom lê. Al was ons ver van ons kinders af, het elke telefoonoproep die afstand kleiner gemaak. Wanneer jou kinders vir jou sê: “Mamma, jy is ’n inspirasie. Die beste wat God vir ons kon gee.” …dan besef mens opnuut dat jy, ten spyte van baie menslike foute en oomblikke waarin jy gewonder het of jy genoeg is, tog iewers iets reg gedoen het.
Vir my bly dankbaarheid die grootste geskenk van moederskap: Om na jou kinders te kyk en te weet hulle het mooi, goeie, normale jong volwassenes geword. Nie perfek nie—want niemand is nie, maar ordentlik. Mense met goeie harte. Mense met empatie. Mense wat liefhet en probeer, uithou en aanhou. Hulle nie laat onderkry nie en gedermineerd klaarmaak met wat hulle begin het, al is dinge moeilik, spanningsvol en onseker by tye. En dalk is dit uiteindelik al waarvoor ’n ma ooit regtig op hoop.
Daar was hierdie maand ook goeie nuus rondom my Nederland-reis na my seun: die Visa-afspraak in Kaapstad was suksesvol. Ek sal eerlik wees—die Nederlandse Visa-kantoor bly vir my ’n plek wat spanning in mens se skouers laat intrek. Maar soms verander ’n enkele ontmoeting die ritme van ’n hele dag.
Die beampte wat my gehelp het, Busi Nkosi, het met soveel vriendelikheid en opregte belangstelling met my gesels dat die formele onderhoud onverwags menslik geword het.
“You are self-employed?”
“Yes, I am a writer.”
“You are doing well?”
“Yes, I am blessed to write romances with a twist of crime.”
“You are successful?”
“Yes, by God’s blessing I am doing what I love.”
Toe glimlag sy onverwags en sê: “Someday I want to be you.”
Ek moes lag en antwoord: “Maybe one day I’ll write about you in one of my books, if I may.”
“You’ll actually do that? Write about mé”
“I am an observer of people. Writers notice things. Look me up, here is my website: www.lelanieroode.com Read my newsletter, maybe in the next book you’ll find your name…”
Daardie klein toevallige ontmoeting het my weer herinner hoe mense mekaar soms op presies die regte oomblik kruis.
“Perhaps some encounters are not accidents at all, but quiet fingerprints of God upon ordinary days.”
My skryfwerk bly intussen volstoom aan die beweeg. Ek is besig met die finale redigering van Val en Sweef, die opvolg van Olifant op ’n Sweefstok. Teen 1 Junie vertrek beide manuskripte na Annerle Barnard in Bloemfontein vir ’n professionele leesverslag.
Terwyl daardie proses aan die gang is, begin ek gedurende Junie en Julie met die Engelse vertaling van die opvolg: Val en Sweef. Ek vermoed baie van daardie werk sal gebeur gedurende stil ure in Nederland—wanneer my seun werk en ek tussen die kleiner dorpies rondom Weert, Eindhoven en Utrecht rondbeweeg. Daar is iets aan onbekende strate en vreemde koffiewinkels wat ’n mens se kreatiwiteit oopmaak.
Miskien is dit die grootste les van hierdie seisoen: Dat lewe nooit net uit groot dramatiese oomblikke bestaan nie, maar meestal uit klein ontmoetings, mooi herinneringe, veilige huise, lang paaie, boustof, stemme oor telefone en Genade wat onverwags in gewone dae kom sit.
Dankie dat julle saamreis—deur al die seisoene van hierdie lewe en skryfreis. Mag Junie vir julle ’n maand wees van rus tussen verantwoordelikhede, warmte tussen koue dae en hoop wat aanhou brand lank nadat die son onder is.
“Some people arrive by coincidence but stay by divine design.”
Met liefde, dankbaarheid en seënwense,
Groetnis