NUUSBRIEF 25 JUNIE 2025
Liewe Lesers,
Ek is terug in die: Bos – Stellenbosch al vanaf 31 Mei en die verlange na my geliefde is groot… Ek sit daagliks en werk aan: Olifant op ‘n sweefstok se opvolg-boek: Val en Sweef. Dit gaan maar stadig en party dae staan ek net op en gaan swem ‘n oefensessie by Coetzenburg se buite Olimpiese swembad. Soveel so dat ek ‘n vreeslike winter verkoue opgedoen het. Tog, dié spesifieke koue dag wat ek gaan swem het, om u ‘n idee te gee: dit was warmer binne-in die water as daarbuite en dit het saggies gereën. Ek dink later; dit raak nou baie koud, ek moet uitklim. Net toe breek daar ‘n sonnetjie uit! In die swem-asemhale sien ek die mooiste reënboog. Ek maak klaar, my selfoon is in my motor. Ek hardloop sopnat kar toe, en neem die reënboog af.
Dit was vir my só sprekend van God se Beloftes in Sy Woord. Mens worstel soms met soveel vrae sonder konkrete antwoorde. In my swem-tyd, wat ook my bid-tyd is vra ek al daardie vrae? Bid ek vir antwoorde. Dan wanneer die antwoorde nie menslik-dadelik kom nie, stuur ons Vader Sy Reënboog! Dan is dit asof daardie onbeskryflike Vrede en vreugde binne-in my weer neerdaal en opwel, wat vir my sê: “Wag geduldig. Wees dapper, wees sterk. Ek gaan voor jou uit.” Ek het dit vanoggend weer gekry in Sy Woord: 1 Kronieke 12:18 & 13:10-16 en ook Genesis 21:22: “God is by jou in alles wat jy aanpak.”
Wat lê in Julie maand? Ek begin die maand sommer vinnig. 1 Julie voer ek ‘n onderhoud met ‘n nuwe Naledi outeur: Petro Kotze-Odendaal oor haar boek: “Wanneer die krieke stil word.” Dis ‘n outobiografie oor haar lewe. As jy of van jou vriende en of kennisse in Stellenbosch is, kom maak gerus ‘n draai tussen 15h – 18h by Aunty Sophie se kombuis by: 1 Noordwal Wes, Die Laan. RSVP by Tertia: 078 648 8616. Of val sommer net in. Dit gaan ‘n heerlike kuier-middag wees terwyl ons gesels oor haar boek. (Die uitnodiging is ook by hierdie nuusbrief aangeheg.)
My geliefde Cornelius kuier ook dan al hier by my. Hy arriveer die vorige aand (30 Junie tot 10 Julie). My tweeling-dogters gaan vir ons die klank en mikrofone behartig. Dis sommer ‘n span-poging om hierdie nuwe outeur ‘n wegspring-kans te gee om haar boek te bemark in die Kaap. Petro is van Orkney in die Noordwes-Provinsie. Dit lê my na aan die hart juis omdat my ouers jare in Stilfontein gewoon het. My moeder woon steeds in Klerksdorp na my pa se afsterwe in 2018. Ek is ook nou gereeld in die Noordwes-Provinsie met my geliefde Cornelius wat in Rustenburg-Marikana woon en werk by die ATKV Buffelspoort.

Ek besoek hom weer in Augustus-maand. As daar enige leser is wat hierdie nuusbrief lees en wil hê ek moet by julle Boekklub, Biblioteek, Werksplek, Vroue en of Manne-bidure en of albei, óf Skole (grade 11-12) ‘n praatjie gee oor: 1. Olifant op ‘n Sweefstok. 2. Die wonderwerke wat God ook in my eie lewe en die van my geliefde Cornelius gedoen het – vir ons ‘n liefde gegee het, ‘n vrede wat alle verstand te bowe gaan. 3. ‘n Kykie na die opvolg-storie van Olifant op ‘n sweefstok: wat tans die titel dra: “Val en sweef.” Kontak my asseblief ASAP by: (lelanieroode@gmail.com) sodat ek die datums met my besoek en vlugkaartjies kan sinchroniseer. Ek doen dit graag.
Die nuusbrief is nie so lank hierdie maand nie. My webtuiste-bestuurder: Donovan Risk by: AEON WOLF (PTY)LTD het my oortuig om in Julie 2025, twee(2x) nuusbriewe uit bring… Ek glo ek sal dit doen. Ek sal hierdie lesers graag wil vertel hoe die bogenoemde onderhoud met Petro Kotze-Odendaal gegaan het? Ook sal ek graag besprekings wil akkommodeer met my Augustus-besoek aan die Noordwes-Provinsie en Gauteng. Natuurlik ook sover as Klerksdorp, Stilfontein en Potchefstroom. As ek genoegsame kennis het van die datums werk ons dit in ons program.
Ons het egter een vaste afspraak: 9 Augustus gaan ek en Cornelius na Monte Casino vir: Joseph and the Technicolour Dreamcoat. Ek sien baie uit daarna. So op Vrouedag is dit wat ons gaan doen om dit te vier.
Ek wens een en elkeen ‘n mooi winters-Julie maand toe. Sit knus voor die kaggelvuurtjies. Films wat ek onlangs gekyk het en kan aanbeveel, lekker “feel-good-movies” is op Netflix: Find me falling. Holiday in the Wild. Nonnas. Op Prime: A week in Paradise.
Vele seënwense en ‘n aanhaling van: William James: “The power to move the world is in your subconscious mind.”
Groetnis: Lelanie Roode