NUUSBRIEF 28 JULIE 2025
Liewe Lesers,
Dit voel of ons Julie-maand gespring het! Soveel het gebeur. Ek is bederf met ‘n heerlike lang kuier van my geliefde vanuit die Noordwes Provinsie. Sommer vir 16 dae aaneenlopend. Dit is ‘n goeie balans wat ons verhouding kry deur die langer tydperke wat mens mekaar sien. In hierdie tydperke bymekaar word die verhouding ook blootgestel aan die “mundane”, die alledaagse dag-tot-dag take en werke van saam mekaar lewe. Uiteraard is dit maklik om vir ‘n naweek of ‘n langnaweek, selfs vir ‘n week of tien dae op “honeymoon” te wees.
In langer tye leer mens om saam te leef met die elke dag uitdagings van: huis, werk, kinders, kosmaak, herstelwerk, diere versorg, selfversorging, lees, tv-kyk, goeie dae en buie, slegter dae vanaf: “not a good-hair/skin-day” tot fantastiese dae wat goeie nuus bring, maar ook die dae van hartseer en teleurstellings, dinge wat nie uitwerk nie, gewone inkopie-dae, die sleep-my-voete-dae, die dans-dae en alles tussen-in. Die wonderlikheid is dan, om te besef: ons is netso sterk en lief vir mekaar as in die wittebrood-tyd. Ons liefde groei, verdiep en verbreed. Dis ‘n gemaklike, rustige, companionship & liefdesverhouding waarin romanse en vriendskap gebalanseer word met die vaste fondasie wat ons het vanaf skooldae af. Tog ook ‘n volwasse wysheid en lewenservaringe, wat ons moes meemaak deur die woestyne en oerwoude van later in ons lewens. Dit alles bring ons by die mense wat ons vandag is. Die littetekens is nie iets wat ons definieer nie, dit wys net wat ons oorleef het. Bo alles het ons ‘n God in die Hemele wat tyd, plek en geleentheid bymekaar plaas. My geliefde se woorde wanneer ek gespanne raak oor die toekoms, boekverkope, kinders, tyd, geld en alles wat mens kan oorweldig is altyd: “Onthou die Here is reeds daar voor! Hy kry jou daar.” Dan haal ek weer asem. Ek gee oor aan ‘n Vader wat alles in Sy Hande hou en werk voort soos Hy ons in Sy Woord beveel.
Daar is dae wat ek voor die rekenaar sit en wonder: Hierdie is ure, dae, weke en maande se voort-woeker(swoeg) en skryf. Wanneer gaan dit wys in my boekverkope? Gaan daar eendag ‘n skool of twee of drie wees wat voorloop en dit aankoop vir Afrikaans 2de taal vir die grade 11 en 12’s? Gaan iemand, ‘n sielkundige of onderwyser, ‘n ouer of adolessent sien, soos regtig rááksien wat ek hulle déúr dié romantiese swemstorie wil leer en wys? Gaan ‘n op-en-top Afrikaanse onderwyser/es insien dat daar langvrae uitgewerk kan word uit die simboliek wat ek soos ‘n goue draad deur die stories vleg? Die simbole van die: Sweefstok, die trapesium, hoe ek die risiko van liefhê gebruik in die sweef en val, die vashou en los van die sekere na die onsekere. Die veiligheidsnette onder jou of waarsonder jy liefde moet waag of nie? Dat die lewe met jou gebeur in siekte, dood, verloor, wen, podium, oorwinnings én uitdagings.
Gaan ‘n sielkundige/onderwysers, skoolberader en leser raaklees dat “toxic personalities” aangespreek en uitgewys word vir lesers wat: “Olifant op ‘n sweefstok” en die Opvolg: “Val & Sweef” deurllees? Dit waaraan ek só hard werk, om die verskillende karakters se persoonlikhede te ontwikkel. Dat dit identifeerbaar sal wees vir die fyn-leser wat dan die: People Pleaser, die Rebel, die Perfektionis, die Empaat, Egoïs, Narsissis, Introvert, Ekstrovert, Ambivert, Choleriese, Melankoliese, Flegmatiese en Sanguisniese -persoonlikhede sal raaksien? Dit hulle meer sal leer van ander en van hulleself.
Op hierdie stadium is dit: Geloof, Hoop en Liefde wat my dryf. Geloof dat God ‘n Groter, Goeie en Wonderlike Plan met my lewe en skryfwerk het. Hoop dat ek bó die radar sal uitstyg/sweef! En bó alles; my Liefde vir skryf en om ‘n verskil te maak in menselewens. Te inspireer.
Hierby aangeheg is ‘n foto geneem in die Exclusive Books Somerset die afgelope week. Dit is hierdie Wonderwerke wat my aan die skryf hou. Ek is 4de geplaas in die top-keuses-van-die-week/maand? Ek weet nie hoe Exclusive Books se sisteem werk nie? Vir nou is nommer 4 (wat ook my gelukkige nommer is) wonderlik! Olifant op ‘n sweefstok is in dieselfde foto van: Mel Robbins se: Let Them-Theory-boek. Iets wat ek julle in ‘n vorige nuusbrief van vertel het. Ek is ‘n groot aanhanger van Mel Robbins en dit is ‘n eer om spasie met haar te deel.
Ek vertrek weer 6-21 Augustus na my geliefde Cornelius in Noordwes Provinsie. Daar gaan ek verder werk terwyl hy werk. Ook bietjie rus van die opvolg-manuskrip wat ek vóór die 5de Augustus by my proefleser: Danie Botha moet aflewer. Dit sal dan Danie se taak wees in dié twee weke om die volledige 2de draft deur te redigeer. Ek is inderdaad benouder om die 2de draft by my studente-dogters te laat vir kommentaar… Hulle lees fyn en leef binne-in die wêreld van jongmense. Hulle sal vinnig vir my sê: “Mamma, niemand praat só nie!” óf “Mamma, juice bietjie hierdie of daardie love-scene op!” Daar is géén filters by mens se eie kinders nie. “They tell you as it is!” Wanneer ek terugkeer sal ek dan hulle kommentaar asook Danie se 2de draft redigering saam deurwerk in die 3de draft. Dan gaan dit na ‘n grammatikale proefleser. Wanneer ek dit óók weer deurgewerk het na ‘n 4de en laaste draft gaan dit na die laaste redigeerder, voor ek dit weer moet herskryf vir die publikasie-gereed-kopie. Nog báie werk wat voorlê. Maar dit is daardie ding van: “Hoe eet mens ‘n olifant?” Stukkie-vir-stukkie… Follow my op Instagram & Facebook. https://instagram.com/authorlelanieroode?igshid=MzRIODBiNWFIZA==
Ek laat julle met ‘n aanhalings: “Legacy is not leaving something for people. It’s leaving something in people.” (skrywer onbekend) ook: “You don’t need anyone else’s permission to be happy. You are responsible for own happiness. Responsibility = Your abillity to respond. Let Them and Let Me.” (Mel Robbins – The Let Them Theory)
Groetnis tot volgende maand.
