NUUSBRIEF 29 JUNIE 2026
Liewe Lesers,
Junie het reën-reën aangebreek met die eerste asemteug van winter. Die bome nou meer kaal, die oggende dra ’n kouer stilte en die son lê sagter oor die landskap. Daar is iets besonders aan hierdie seisoen—’n herinnering dat rustyd nie ’n einde is nie, maar ’n voorbereiding. Winter is die aarde se manier om terug te trek, energie te bewaar en in stilte gereed te maak vir nuwe lewe.
Hier by ons huis in Stellenbosch het ’n nuwe hoofstuk oopgegaan. Die bouwerk aan die vertrekke is klaar. Die stof, geraas en afrondings is nou deel van die verlede. Die nuwe ruimtes wag om gevul te word met stemme, lag, koffiekuiers en herinneringe. Kinders en gaste is welkom. ’n Huis word nie deur mure volledig gemaak nie, maar deur die mense wat daarin kom leef.
My Nederland-kuier kom nader. Die volgende nuusbrief in Julie sal vanuit Weert, Nederland geskryf word. Ek pak nie net klere en boeke nie, maar ook verwagting, dankbaarheid en die voorreg om tyd saam met my seun te spandeer.
My skryfwerk reis saam met my. Ek gaan begin met die Engelse vertaling van my opvolgboek: Val en Sweef. Ek is steeds op soek na ’n gepaste Engelse titel. Indien enige lesers voorstelle het, stuur gerus vir my ’n e-pos na: lelanieroode@gmail.com
Ek glo steeds dat my ontmoeting met Busi Nkosi by die Nederlandse Visa-kantoor nie bloot toeval was nie. Die God van die heelal beskik oor sulke ontmoetings. Ek wil steeds daardie Krimi-novelle skryf en haar naam gebruik as die heldin van die verhaal.
Hoe heerlik sal dit wees om eendag vir haar ’n kopie van die boek te gee en te sê: Jy het ’n plek in my storie gekry.
Die Afrikaanse manuskrip van Val en Sweef vertrek middel Julie na Bloemfontein waar Annerle Barnard dit saam met Olifant op ’n Sweefstok sal lees vir ’n professionele leesverslag.
Nog goeie nuus: ’n Kortverhaal van my is opgeneem in die bundel: Die Strand—Stories en Staaltjies, saamgestel deur Kwarts Uitgewers, Sunset Books en Tanya O’Connor. My verhaal verskyn onder die titel: Strand se skulpe. Dit is my eerste publikasie onder my nuwe van: Roode-Smit.
Gedurende 2027 neem ek die van aan van my geliefde Cornelius Smit aan. My nuwe skrywersnaam word Lelanie Roode-Smit, en ek wil my opvolgboek onder hierdie nuwe van uitgee.
Liefde in hierdie tydfase van my lewe is iets wat ons koester, bewaar en beskerm. Ek glo ware liefde in die tweede helfte van jou lewe is skaarser as hoendertande in ’n hooimied.
Cornelius het my eens gevra: “Hoe loop mens met ’n duif op jou skouer teen ’n trap af?” My antwoord was: “Baie stadig en baie versigtig…”
Hy het geantwoord dat hy met ons verhouding loop soos met ’n duif wat uit eie vrye wil op jou skouer kom sit het. Jy hou dit nie vas nie, want jy kan dit seermaak. Jy gee dit die vryheid om te vlieg of te bly.
Vir my is dit die kern van liefde: “Ware liefde is nie ’n hand wat vashou nie, maar ’n skouer waarop iemand veilig genoeg voel om te bly sit.”
Dankie dat julle saamreis deur boeke, paaie, mense en die klein wonderwerke van gewone dae.
“Travel far enough, you meet yourself.”—David Mitchell
Met vele liefde en seënwense