NUUSBRIEF 26 SEPTEMBER 2025
Liewe Lesers,
September en lente is hier. In die Noordwes is Lente presies op tyd. In die Kaap glo ek is die seisoene een maand agter. Ek kuier al vanaf 7 September by my geliefde Cornelius in Noordwes Provinsie. Ek sou eers die 20ste September boontoe gereis het. Daar het egter soveel goed gebeur in die eerste week van September dat ek my vliegtuigkaartjie vervroeg het vanaf die 20ste na 7de. Die gebeure wat hierdie besluit ge-aktiveer het was ‘n tragedie asook ‘n leweningrypende situasie van ‘n vriendin. Dít tesame met my pragtige oudste dogter se 30ste verjaarsdag het my weereens laat besef hoe kort (en hoe lank) die lewe regtig is. Hoe vinnig dinge kan verander.
‘n Vriendin van my se kleinkind(3jr) is ‘n frats-ongeluk dood. Net daar verander lewens, (ouma en oupa s’n) uiteraard en natuurlik, onherroeplik ook dié van haar dogter en skoonseun. ‘n Goeie vriendin van my met wie ek nog ‘n koffie-afspraak het die Vrydag, gaan die Woensdag in hartversaking en kry daardie einste koffie-afspraak-Vrydag ‘n drie-dubbele hartomleiding. Dit was “touch&go” vir haar. Daar is dae in ICU, hospitaal, herstel is stadig, maar dit is sekerlik. Sy kry ’n tweede kans op lewe. Daar is nog báie om te doen.
Al hierdie gebeure midde die vieringe van my oudste dogter se 30ste verjaarsdag. Haar lewe is in die fleur. Op dertig jaar is mens oud genoeg om te weet dinge kan verkeerd loop—jonk genoeg om die uitdagings, drome en ideale vierkantig in die oë te kyk en vir hulle te sê: “Bring it on!” In daardie week het ek besef: Die lewe gee en neem. Die lewe moet elke dag gevier word asof dit vandag jou 30ste verjaarsdag is. Jou drome, ideale en werk is doenbaar in elke ouderdom, in elke week, jaar, maand, jaar en jare. Waardeer dit. Dit kan in ’n oogwink weggeneem word, verander of tot niet gaan. Geniet die Genade-tye, die blywees-tye, die liefhê-tye, die koester-mekaar-kuier-tye en die saamwees-tye. Werk moet ons werk. Ophou droom? Nooit! Balans tussen alles—altyd.
Om die lewe met krieket te vergelyk: Die lewe se draaiballe kom sonder waarskuwing. Dit boul jou uit. Jy moet weer-en-weer in die nette gaan oefen. Dan kom daar ook die geleenthede verby waar jy die kans het om ook die viere en sesse te slaan. Vat dit!. Vier dit! Ook die “mudane-times” waar jy bloot net die enkellopies hardloop, draf, stap óf loop … Dán ook net voor die penne staan en blok-vir jou lewe/oorleef-tye. Soms lééf jy. Soms òòrleef jy. Want soos hierbo genoem: “shit happens and bad things happen to good people.”
Op hierdie stadium van ons lewens móét ons noodwendig ’n “commuting marriage.” maak werk. Dit maak nie dat ons ophou droom of ons ideale op “pause” plaas nie. Daarvoor is die lewe te kort. Dis een ding as tieners, twintig-, dertig- of selfs veertig-jariges. Op vyf-en-vyftig het mens daardie “skoolgeld” reeds betaal. Mens weet beter, dat die lewe het sy draaie geloop. Soos my geliefde ook sê: “Ons moes ook maar om die berg loop…” Die Israeliete moes 7x om Jerigo loop, 40jaar in die woestyn swerf. Ek kan tans op enige plek werk, want ek sit en EDIT aan my opvolg-boek. Volgende jaar moet ek noodwendig dalk meer toer met die opvolg: VAL EN SWEEF van OLIFANT OP ’N SWEEFSTOK na dorpe, stede, klein-dorpies, feeste—ek hoop, boek-bekendstellings,-besprekings, skole, funksies en hopelik baie meer. Ons werk met wat ons het …
Vir nou—is my werkstyd buigsaam en hoef ek nie op ’n sekere plek te moet wees om te kan werk nie. Daarom kan ek, waar my geliefde moet verlof neem om te kom kuier, hoef ek dit nie te doen nie. Een van my lewens-motto’s is: “WERK MET WAT JY HET.” Met die lewe wat sò kosbaar is—korter as wat ons dink—langer as wat ons weet. Die lewe gebeur of ons dertig is of sestig, ’n kleuter van drie jaar of tagtig jaar oud.
Dit laat my altyd dink aan die deel in die Bybel in 2Konings 4:1-7 = Die weduwee se olie. Waar sy gevra word: “Wat het jy in jou huis?” Haar antwoord: “Niks nie, behalwe ’n bietjie olie.” Hoeveel maal dink ons, ons het “niks nie”? Tog as ons mooi gaan kyk is daar altyd tòg ’n “behalwe”. Ek het ook vir die Here jare gelede gesê: “Here ek het niks nie. Ek het my beroep en tyd afgestaan aan my kinders, nou het ek ‘niks’ nie. Behalwe ’n pen in my hand.” Net soos met die weduwee het die Here gesê: “Gaan in jou huis in, maak jou deure toe en begin die kanne vol olie maak = begin skryf” Dit is wat (die weduwee) en ek—ons almal moet doen. God doen die “Wonder” , maar ons as mens moet die “werk” doen. Saam is dit ’n Wonder-Werk. Die weduwee moes uitgaan en die olie verkoop. Dalk het sy niks van bemarking en besigheid geweet (of eers van gehou) nie? Nét soos ek: Bemarking en besigheid is nie my ‘forte’ nie. Maar werk móét mens werk. Anders bly daardie “Wonder” net binne-in jou huis. Dit kan en sal nie vír jou kan ‘werk’ voor jý nie in beweging kom nie. Voor jý nie om die berge en deur die dale loop nie…
Já, daar ís teleurstellings: Ek het toe nie die Inspirasie-vrou-2025 se 15-finaliste gemaak nie. Ek wou en het gedink: Dis sal fantasties wees! Klaar gedroom en gehoop van daardie 2de prys wat “Media-dekking” belowe het … Maar dit was (nie nou) vir my beskore nie. Ek wens dié 15 finaliste alle voorspoed toe. Dalk staan ek in 2026 of 2027 ’n kans? Wie weet? Maar van aanhou en uithou—determinasie en geduld en vertrou op God se perfekte Plan leer ek elke dag meer van.
Ek is terug in Stellenbosch die 6de Oktober saam my geliefde tot 14de Oktober. Ons gaan vriende ontmoet, die Stellenbosch Woordfees ondersteun. My droom: Ek gaan óók eendag na daardie Woordfees genooi word. Tot dan—werk ek met wat ek het. Ek reis tussen my 2 huise in die Wes-Kaap en Noordwes Provinsies. Ek werk en woeker voort. Ek is dankbaar vir elke asemteug deur Sy Genade aan my geskenk—want ek weet hoe dit voel om daarsonder te lewe. In ’n ander nuusbrief vertel ek julle van my eie ope-hart-chirurgie en hoe dit ook my hele lewe verander het, soos dit my vriendin s’n met die tripple-bypass . Dit verander, hóé jy na die lewe kyk en dit beleef. Dis korter as wat jy dink. Langer as wat jy weet.
Tot ons mekaar weer ontmoet in Oktober: Onthou: Werk met wat jy het. “Get-up. Chin-up. Dress-up. Show-up. Elke uur, elke dag. Week in en uit. Maand vir maand. Jaar en jare.
Want; daardie: “niks nie—is in jou kop. Die “behalwe”—is in jou huis. God doen die WONDER. Doen jý net jou werk.
Baie sterkte en seënwense.