NUUSBRIEF 4 JULIE 2023
Liewe Lesers,
My laaste nuusbrief was 3 Julie 2023 en vandaar het dinge teen ‘n snelheid gebeur wat my vandag eers tyd gee om weer stil te staan by die afgelope maand se gebeure.
Ek het Bloemfontein toe gereis. Die Vrystaat Kunstefees. Dit was ‘n lang pad. Tyd vir dink en musiek luister. Die natuurskoon van die Karo. ‘n Refleksie se terugkyk in my truspieël na die verlede en ‘n vooruit kyk deur my voorruit na moontlikhede van die toekoms. Die laaste deel tussen Colesberg en Bloemfontein was ‘n nag-ryery met trokke en ligte van voor-af. Ek het gebid en gery en gery en gebid. Ek kon voel hoe God se engele oor my waak. Op ‘n stadium ry ek agter ‘n BMW en die motor swaai uit vir iets. In ‘n breuk sekonde swaai ek agter hom aan en bly net in sy “slipstream”. Met die uitswenk-draai sien ek dis ‘n bokkie wat in die pad staan. Daar besef ek weer: God wéét presies wáár ek is en hóé ek moet ry. Was ek nie op daardie oomblik in tyd agter daardie BMW nie, het ek nie uitgeswenk nie het ek moontlik daardie bokkie getref…
Die Vrystaat Kunstefees was ‘n wonderlike uitputtende ervaring. Die hele blootstelling van “skrywer-wees-op-‘n-verhoog-onder-kruisverhoor-oor-jou-boek” is vir my nuut en angswekkend! Terselfdertyd ook opwindend en droom-waarmaking. Die “skare” mense by my boekbespreking was in totaal tussen 15-20 mense gewees. Teleurstellend vir enige skrywer wat hoop om ‘n vol saal mense te kry. Realisties vir veterane wat weet die pad van ‘n skrywers-loopbaan is vol klippe, draaie, opdraandes en so en dan ‘n skielike val oor jou eie voete en foute. Daar is mense wat luister en dan is weer ander wat uitstap want dis bloot nie hulle koppie tee nie…
Dis hierdie oppe-en-affe wat so ‘n Kunstefees moeilik maak maar ook leersaam. Ek het geleer dat maak nie saak hoe mooi “perske” jy is nie… daar is en sal steeds mense wees wat nie van “perskes” hou nie. Ek het geleer dat die Bloemfonteiners vriendelike en gasvrye mense is. Ek het geleer dat party mense hou van letterkunde en ander verkies net ‘n lekker “hyg-roman” en dat sommiges my boek as die een sal sien en sommiges weer soos die ander. Dat ek alle partye se sienswyses moet aanvaar en waardeer. Dat kritiek ‘n gegewe is soos ‘n pinkie-toon se stamp teen ‘n meubelstuk – dis seer en dis pynlik maar dit gebeur. Ook dat komplimente uitgedeel word soos heerlike tuisgemaakte melktert en dat mens dit mag aanvaar en geniet! Dankbaar die krummels van die kors daarvan kan optel met jou vingers, op jou tong sit en die nasmaak daarvan onthou… Dit te geniet as die rede waarom jy jou storie met die mense daarbuite deel.
Ek het geleer dat jou uitgewer (in my geval NALEDI) kosbaar is. Dat hulle ondersteuning en glo-in-jou en jou skryfwerk jou dra deur die kritiek en jou laat vlieg oor die moeilike vrae tot by die rede en passie van hoekom jy skryf? Dat daarbuite is ‘n instansie, ‘n uitgewery – ‘n NALEDI wat dieper kyk as die “hyg” en wat wyer kyk as die 15-20 mense in die gehoor en vir jou sê: “Hou net aan! Want soos Johan Rossouw in sy artikel in die Burger/Volksblad en Beeld gesê het oor Karel Schoeman: “…die wens van elke skrywer is om kontak te maak met een leser…” En as ek in hierdie lang reis Bloemfontein toe en terug kon kontak gemaak het met een leser was dit die 2400 kilometer, die nag ry, die dag ry werd gewees. Hoeveel “Olifante op ‘n sweefstokke” eindelik daar verkoop is weet ek nog nie, maar ek hoop ek kon op my manier van trial-by-error” kontak maak met ‘n leser, met ‘n mens op daardie fees?
Tot volgende keer.
Hoor die onderhoud hier aanlyn of skakel in op die 6de Augustus 11h15 op radio overberg:
Bestel aanlyn by: https://naledi.co.za/product/olifant-op-n-sweefstok/
Lelanie se persoonlike webblad: www.lelanieroode.com en epos: [email protected]
Intagram: https://instagram.com/authorlelanieroode?igshid=MzRIODBiNWFIZA==
Die Lokprent-video = YouTube: https://youtu.be/YdPE42rm_pl
Naledi skakelpersoon = Tertia Swart Nr: 078 648 8616 of Epos: [email protected]