NUUSBRIEF 22 JANUARIE 2024

Voorspoedige 2024 vir al my lesers en mag die nuwe jaar vir ons goeie geleenthede en goeie gesondheid inhou.

Die afgelope Desember-vakansie was ek en my dogters Nederland toe. Ons het daar vir my seun gaan kuier wat by ASML  in Eindhoven werk as meganiese ingenieur. Dit was bitter-flippen koud gewees! As mens nog koud kry en daar is sneeu om die koue te rasionaliseer is dit een ding maar Desember was dit net bloot koud. Die sneeu kom eers Januarie/Februarie. Die kuiertjie was heerlik! Ons het Maasdricht-Kersmark besoek, een van die grootste Kersmarkte in Nederland. Ons was Utrecht toe en het gaan kyk hoe lyk die Universiteit waar een van my dogters vir haar studies vir 6 maande moet gaan studeer hierdie jaar. Dit laat my baie aan my tuisdorp Stellenbosch dink. Dis studente en ‘n dorpie wat besig is. Groot genoeg en klein genoeg. Verder was ons Amsterdam toe. Ons het al die toeriste-goed gedoen. Van die Ice-bar – wat ‘n MOET sien en beleef is! Die Hard Rock Cafe. Die Rooi ligte-distrik wat eintlik vir my net tragies is… Maar ja, so het ons die dag saam spandeer, 20 kilometer gestap en die aand weer flou per trein in Eindhoven aangekom. 

Die groot nuus in verband met Olifant op ‘n sweefstok is dat ek die kontrak gekry het by Naledi vir die opvolg daarvan en is tans hard aan die werk. Naledi werk om dit uit te gee teen Julie/Augustus 2024 sodat dit gelyk loop met die Parys Olimpiese Spele 2024 en ons beplan om die Olimpiese Spele Bemarking-golf te gebruik ook vir bemarking van Olifant op ‘n sweefstok se opvolg. Ek het al ‘n werk-titel vir die opvolg maar wil my lesers uitdaag om vir per epos ([email protected]) voorstelle te stuur vir ‘n moontlike titel vir die opvolg? Die werkstitel is op die oomblik die een wat Naledi van  hou maar ek gaan dit nie nou bekend maak nie. Ek wil eers sien wat my lesers dink en ander voorstelle onder oë kry voordat ek op die finale publikasie-titel besluit. Indien ek een van die voorstelle aanvaar wat ek inkry sal ek vir daardie leser ‘n komplimentêre getekende kopie stuur en natuurlik ‘n uitnodiging na die Boek bekendstelling waar ek dit bekend sal maak. 

Verder hoop ek en Naledi dat ek met Olifant op ‘n Sweefstok na die KKNK en Stellenbosch Woordfees ‘n gleuf kan kry vir ‘n Boek praatjie? Ons gaan ook met Olifant op ‘n sweefstok na Kaapsche Hoop en moontlik weer die Vrystaatse Kunstefees. Dis alles hangende projekte wat ons meer inligting in die volgende paar maande sal ontvang.

My eerste Roman: POORTE: Elke seisoen het ‘n storie wat ek na ‘n Afrikaanse Film Draaiboek verwerk het is tans besig om deur Daniël Dercksen in Prins Albert na Engels vertaal te word. Ek is ook besig met ‘n online-skryfkursus saam Daniël by sy (www.writingstudio.co.za)  waar ek werk aan ‘n Engelse Criminal Novel. Daar is dus BAIE hooi op my vurk maar dit is heerlik om soggens op te staan en te doen waarvoor ek lief is. Ek sê totsiens met die volgende aanhaling: Mark Anthony het gesê: “If you do what you love, you’ll never work a day in your life.” 

Groetnis tot Februarie.