NUUSBRIEF 11 MAART 2024



Liewe Lesers

Expect Miracles! Een van my 2 tatoes se woorde. Ek glo in wonderwerke. Soveel het al met gebeur. Groot en klein. Die oorleef van my tweeling se geboorte. Die spaar van my lewe tydens my ope-hart operasie. Die publikasie van Olifant op ‘n sweefstok.

Een van my gunsteling gedeeltes in die Bybel is 2 Konings 4:1 7 = Die weduwee se olie. Soos julle weet is ek ‘n geskeide vrou – ‘n skielike “weduwee” van ‘n lewende dood…

Ek weet ook teen dié tyd dat God se Plan met ons lewe is nie ons plan nie. Niemand wil ‘n weduwee of geskei wees uit keuse nie. Dis tog nie waarom ons trou in die eerste plek nie. Die lewe deel daardie titels uit en ons moet dan daarop reageer, dit hanteer en bestuur. Wat God van ons vra is wat Hy so baie in Sy Woord sê: “Wat het jy in jou huis?” Vir myself is die vraag ook anders gestel: Wat kan jy doen? Hoe gaan jy dit doen? Met wat jy het.

Die weduwee het vir Elisa gesê: “Ek het niks nie, behalwe ‘n kannetjie olie.” Ek het ook vir die Here gesê: “Ek het niks nie, behalwe ‘n pen in my hand nie.” God het gesê: “Skryf.”  Sy opdrag gaan verder: “Gaan verkoop die olie en betaal jou skuld. Jy en jou seuns kan dan leef van wat oorbly.” Dit is vir my een van die grootste lesse en opdragte in Sy Woord. God gee die wonderwerk – want Hy kan. Jy doen die werk as Sy instrument en getuie van daardie wonderwerk.

As die weduwee die kanne olie in haar huis gelos het, het hulle net daar gestaan. Nee, sy moes uitgaan dit verkoop. Sy moes dus marketing” doen. Sy moes waarskynlik ‘n tafeltjie opslaan en die olie in kleiner kannetjies gooi en dit op die markplein gaan verkoop het. Vroeg opstaan, die hele dag spandeer om olie te verkoop. Berekeninge maak, belasting betaal. Sy moes skuld teen wins aftrek. Alles wat ‘n entrepreneur, gewone mens en werker moet doen om te oorleef en te lewe. God is genadig, maar werk moet ons werk. Ons sit in die oseaan in ‘n kano met twee spane. As ons net gaan bid maar ons roei niks nie gaan ons nie by die land uitkom nie. As ons net gaan roei sonder om te bid gaan ons in sirkels roei. Ons moet roei asof geen bid-werk gaan help nie. Ons moet bid asof geen roei-werk gaan help nie. So sal ons eventueel – op Sy Tyd – by die land uitkom waar Hy ons heen Lei. Ons moet werk met die wonderwerk wat Hy ons skenk. Soos die meel in die bak in 1 Konings 17:1-24, soos die brood en vissies se vermeerderings. In Sy Genade gee God ook Sy wonderwerke. Daar is soveel voorbeelde: Manna en kwartels, vars water. Engele om ons te versorg. Soveel dat ek nie almal hier gaan noem nie anders word die brief ‘n preek.

My wonderwerke is: Die nuwe Bruis-tydskrif met Margaret Gardiner op die voorblad en ek op bladsy 42. My Gauteng-Boektoer 2-6 April 2024  Woensdag 3 April 11:00 die oggend en Donderdagaand 4 April 17:00 2024. Let asb daarop dat die veneus en onderhoudvoerders verskil. Sien asseblief die advertensies en RSVP sommer vandag. Ek hoop om al my lesers van my webtuiste wat in Gauteng daar te sien. Kom groet my, stel jouself voor ek wil jou ontmoet. Ek sien julle daar. Mooi Maandag, week en Maartmaand. Groete en seënwense!