NUUSBRIEF 20 JULIE 2024

LIEWE LESERS

Ek is terug in my tuisdorp, Stellenbosch na ek vir byn

a ‘n maand in Noordwes-Provinsie gaan kuier het. Op 28 Junie 2024 om

  14h het daar ‘n interessante wending in my en Stefaans Coetzee se boek gesprek gebeur by die ATKV Oord Buffelspoort.  Stefaans se

 bakkie het op sy pad tussen Klerksdorp en Rustenburg/ATKV-Buffelspoort Oord waar ons opgetree het gebreek. Cornelius (my man en lewensmaat) die spesiale man in my lewe het vir Stefaans telefonies gehelp om die motor weer aan die gang te kry. Tog sou Stefaans nou laat wees vir die onderhoud. So besluit ons dat Cornelius nou die gesprek sou lei aangesien Stefaans nog in aantog was.

Die hele formaat van die onderhoud moes dus binne die bestek van 30 minute verander. Ek gooi vir Cornelius aan die diep kant in en 14h00 word daar deur die ATKV se Vermaaklikheid-bestuurder Benin Strydom ‘n mikrofoon in my en Cornelius se hande gesit. Die ATKV het ‘n rug-teen-rug-program en daar is geen manier om te wag óf om die onderhoud aan te skuif na 15h00 of 16h00 nie.

Die volgende probleem wat toe opduik is dat die projektor wat veronderstel is om my Lokprent (https://youtu.be/YdPE42rm_pl) van Olifant op ‘n sweefstok te wys nie die power-point of die video-materiaal op die skerm wil gooi of wys nie.

Ek en Cornelius praat gou weer telefonies met Stefaans en dit lyk of hy ‘n drie-kwart-uur laat gaan wees nadat sy bakkie weer aan die ry is met Cornelius se hulp. Maar ek en hy moet maar solank met die onderhoud begin.

Omdat ek en Cornelius ‘n storie het om te vertel en ons ‘n geskiedenis het wat teruggaan na ons hoërskool-dae begin Cornelius die onderhoud daarmee. Hy vertel vir die gehoor (mense binne-in die warm swembad) asook dié wat rondom die swembad sit, staan, op strandstoele sit-lê en by die tafeltjies sit en eet. Hulle luister dat Stefaans wel oppad is en hoe ek en hy (Cornelius) mekaar ken.

Ek vertel in hierdie nuusbrief vir julle my lesers die storie want nader aan ‘n sprokie kom dit nie in die regte lewe nie. Dus wees gereed: hierdie gaan ‘n lang nuusbrief word want ek deel hierna my reis ná die blindsided-egskeiding tot en met die vind van ‘n tweede liefde op 54jaar – hoe oud ek tans is. Ek is ‘n roman-skrywer en selfs in al die liefdesverhale wat ek al gelees het, is óns twee se verhaal iets wat ek in my volgende boek gaan dokumenteer.

Cornelius begin deur vir die ATKV Buffelspoort gehoor te vertel hoe ons twee saam op hoërskool was, Rustenburg hoërskool. Vanaf graad 8-12 (die ou standerd 6-10). Ons is saam gekies op die graad 11 (st.9) leerlingraad en in graad 12 (matriek) is hy onderhoof seun en ek onderhoof dogter. Ons doen pouse vir pouse saam stoep diens. Ons werk saam aan projekte en speel selfs saam gemengde hokkie waar die seuns die meisies se hokkie-rompies moet aantrek en ons meisies die seuns se rugby truie. Ons twee sit altyd langs mekaar in die leerlingraad-klaskamer. Ook openinge in die saal sit ons langs mekaar. Altyd bewus van mekaar …Tog, omdat twee van my vriendinne hierdie “moerse-crush” op Cornelius gehad het, het ek net verby hierdie “pretty boy” gehou. Hoe kan ék, Lelanie nou flirt en net dalkies ‘n romanse begin met my mede-onderhoof-leerlingraadslid  terwyl twee van my vriendinne “flat-out”-verlief is op hom? Nooit! Vriendinne doen nie dit nie!

Só is daar nie iets tussen my en Cornelius ooit op skool nie. Cornelius verloor die kans om my te nooi na die matriek-afskeid want ‘n ander vriend vra my eerste terwyl Cornelius gedink het onderhoof -seun en- dogter gaan outomaties saam. Foutjie. Lelanie sê toe ja vir iemand anders. Ons paaie skei na matriek. Hy gaan Potchefstroom toe en ek Tukkies toe. Ons trou met verskillende mense, het kinders, bly in twee provinsies. Ons is nie eers Facebook-vriende nie. Maar die lewe gebeur en so gaan ons albei afsonderlik, hy na 25 jaar en ek na 29 jaar deur traumatiese egskeidings. Ons stap gestroop, verward, verwerp, verneder en vervang uit ons onderskeie huwelike waar ons huweliksmaats ontrou was. Gebroke en verlore tref ons albei op verskillende vlakke “rockbottom”!

Ons vra aan God vrae sonder antwoorde. Cornelius sien raak op ons Reünie-Facebook-groep, ‘n mede-1988-matrikulant se SHARE van my Boek gesprek-advertensie in Gauteng, Garsfontein Pretoria. Hy dink daaraan om te kom maar daar gebeur ‘n paar goed wat hy moes rondskuif. Hy skeur ‘n beenspier, sy selfoon se battery gaan dood ‘n half uur voor hy by die regte adres kon uitkom. 4 April 2024 kom hy toe net-net betyds aan vir die Boek gesprek aan nadat hy sy foon by ‘n winkel kon herlaai.

Donderdagaand 4 April 2024, staan ek by die ingang van die venue waar die boek gesprek vir aand sou wees. Soos altyd heet ek die gaste welkom wat aankom. Steek my hand outomaties uit, stel myself voor. Ek het nie my kontaklense in nie. Dus kan nie ver sien nie. Ek moet mos later voorlees uit my boek. Ek sien ‘n baie aantreklike man kom aangestap maar ek kan hom nie mooi sien of eien nie. Iemand trek my aandag af maar ek steek my hand uit want stop moet ek dié man stop. Net toe ek my naam en van hardop sê neem hy my hand en hy sê: “Lelanie Roode, jy gaan jouself nié aan my voorstel nie!” Ek herken die stem en kyk om… Hy los nie my hand nie en ons oë ontmoet. Natuurlik herken ek hom dadelik: “Cornelius Smit. Wow!  Wanneer het jy só hot geword?” is my eerste woorde. Hy los nie my hand nie en ek word bloedrooi. Wat ‘n stupid ding om te sê, dink ek maar dit word erger en ek voeg by: “Jy lyk soos ‘n filmster!” Want hy doen. Hy is flippen-aantreklik verby! Die jare het hom mature tot wat my studente dogters sou etiketteer as ‘n salt & pepper silver/ black stallion! Elke skoenlapper in my binnegoed begin rondfladder en ek voel hoe ek aanhou bloos… want steeds hou hy my hand vas. Hy druk my styf vas en fluister in my oor: “Ek mis dit vir niks nie!”  (later sou hy erken dit was sy ‘20 seconds of insane courage’ – soos uit die film: ‘We’ve bought a zoo.’) Ek is heeltemal onkant gevang. Ek probeer kyk of het die man ‘n trouring aan maar kan nie sien nie. Die onderhoudvoerder roep my en ek moet gaan sit op die verhogie. Cornelius sit heel voor in die eerste ry. Ek probeer fokus op die vrae maar kort-kort wil-wil my oë dwaal na die aantreklike man in die voorste ry en probeer ek kyk of het hy ‘n ring aan sy vinger?

Na die praatjie bring hy 3 boeke wat hy vir sy kinders koop. Ek is dadelik teleurgesteld, want natuurlik is ‘n man soos hy reeds gevat. Tog… ek sien nie ‘n vrou of kind naby hom nie? Ek moes toe so koel en kalm soos ek kan sonder om aan hom weg te gee dat elke butterfly in my lyf los rondvlieg! Ek vra ek hom: “So, Cornelius… waar is jou vrou? Jou kinders vir wie jy hierdie boeke koop?”  Dis toe dat hy vir my daardie kuiltjie-glimlag gee en sê: “Hierdie gaan klink soos ‘n sepie, maar ek is geskei ná 25jaar uitgevind my vrou cheat op my met my kinders se swemafrigter!” Ek is só verlig! Nie dat ek ooit bly sal wees oor ‘n egskeiding nie! Dit is terrible! Ek weet mos. Ek neem nét daar ‘n sluk wyn en begin sy boeke vir sy kinders te teken. Hy bly tot die laaste gas vertrek en by die motor voor ek vertrek besef ek: “Lelanie, jy is verlief op Cornelius Smit!” Die res is soos hulle sê – geskiedenis. Hy het my inderdaad genooi vir koffie. Vir my kom kuier in die Kaap. Ons eerste soen en al die soene daarna kan net onder een word beskryf word: MAGIC! Wonderwerk-tweede-kans-liefde wat net aanhou blom en groei. Ons storie gaan veel verder as wat ek tot hier vertel het maar ek gaan dit nie alles in ‘n nuusbrief weggee nie. Ek gaan dit in ‘n roman skryf want dit wat na daardie aand van die 4de April gebeur het en nog ‘n reeks gebeure – wat nét deur ‘n Hoër Hand ge-orkestreer kon word moet vertel word.

Om terug te kom by my en Stefaans te onderhoud: Stefaans het opgedaag by die ATKV Buffelspoort. Cornelius het ‘n uitstekende onderhoud verder gevoer. Ek gee altyd tydens so onderhoud 2 komplimentêre boeke weg vir mense in my gehoor wat ék óf die onderhoudvoerder identifiseer met ‘n vraag wat hulle moet antwoord.

Die eerste vraag wat Cornelius vra was: “Wie was al deur ‘n traumatiese gebeurtenis, egskeiding, afsterwe van iemand naby aan jou en het binnekant só dood gevoel dat jy gedink het; nóóit weer gaan ek iets voel soos ‘n vlinder of liefde nie? As daar so iemand in die gehoor is, lig net jou hand op, want dan is hierdie komplimentêre boek joune. Lelanie gee weer konteks aan daardie hoop-op-vlinders-in-die-maag-liefde in Olifant op ‘n sweefstok.” Daar steek ‘n dame haar hand op en Cornelius gee aan haar ‘n boek. Hy sluit die onderhoud af met die tweede komplimentêre boek se vraag: “Wie van julle tieners hier weet hoe dit voel om ‘n goeie opstel te skryf, akademies te presteer en saam dit sport te doen op ‘n kompeterende vlak en daarin te presteer terwyl jy óók nog probeer om ‘n sosiale lewe te bou? Dalk te hoop op ‘n romanse te midde van al hierdie balle in die lug hou?” Daar steek nog ‘n paar hulle hande op en hy gee dit aan die entoesiastiese meisie wat omtrent uit die water uit spring! Wat ‘n fantastiese onderhoud.

Stefaans lewer ‘n inspirasie-praatjie wat die gehoor aangryp. Ons albei verkoop ‘n boek of drie en ek kwalifiseer daardie onderhoud as een van die heel beste onderhoude wat ek tot dusver gehad het. Dit gaan nie altyd oor die boek-verkope nie maar die verskil wat mens maak in mense se lewens. ‘n Oom en tannie kom na my toe, die oom het ‘n ‘oupa-boepie’ en die tannie vryf liefderyk oor daardie sokkerbal-magie en sê vir my terwyl ek haar boek teken: “My kind, ek en die oom gaan weer daardie vlindertjies kry!” Wat ‘n wonderlike voorreg om vir hulle Olifant op ‘n sweefstok te kon verkoop en aangee.

Uit daardie een onderhoud het die volgende geleenthede gevolg: Teken dit asseblief aan en woon dit by sou julle in die omgewing wees. Ek is op 7 Augustus 2024 by die Kalfiefees in Hermanus om 10h by die Biblioteek Nr 1 Magnoliastraat Hermanus. Daar voer Elsa Winckler met my die onderhoud. My wonderlike eggenoot en lewensmaat, Cornelius gaan ook daar wees.

Reyno Wepener – ATKV se Bemarkings Bestuurder het my die geleentheid gegee om deel te wees van die ATKV AFRIKITI-FEES! 1000e DANKIES aan Reyno! Ek is dus weer in Noordwes Provinsie by die ATKV Buffelspoort tussen 5-11 September by die AFRIKITI-FEES. Kom besoek gerus my gazebo en kom groet my, koop ‘n boek as jy nog nie een het nie.

My ALMA MATER – RUSTENBURG Hoërskool het my genooi om hulle Revue te open in middel Augustus of September?  – ek sal datum nog bevestig. Rustenburg Hoërskool gaan ook Olifant op ‘n sweefstok aankoop vir voorgeskrewe werk! Wat ‘n voorreg en wat ‘n wonderlike beginpunt vir my skrywers loopbaan om my boek in die skole te kry! Daar waar ek as jongmens gevorm is. Waar ek en Cornelius mekaar leer ken het. Daar begin ek weer met my boek in my ou hoërskool. So werk God se Wonderwerke in my/ons lewens.

Ek sluit hierdie lang nuusbrief af met die getuienis dat: NIKS is ooit verlore of dood of onmoontlik vir God om om te draai nie. Hy werk met Sy Groter Plan in ons lewens. Wanneer ons alles oorgee aan Hom om met ons te werk. Vir ons in Sy DOEL en Plan vir ons lewens te wys en ons te Lei begin die legkaart se stukkies in mekaar te val. Begin ons die Groter Skildery van ons lewens te sien.

Ons loop met ons hand in Syne en in mekaar s’n – soos ek en Cornelius dag vir dag, tree vir tree doen. Ons bid saam, werk saam, stap oor die bruggies en die noodwendige grondpaaie, afdraaie, rol die klippe en soms rotse uit ons pad met God en ons vriende, vriendinne, familie, kennisse, gemeenskap en vreemdelinge wat vriende word se hulp. Ons aanvaar hulp en ook die Guns en voorregte wat onverdiend en uit Genade aan ons geskenk word. Want so bly ons in Sy wil. Kan ons getuig van Sy Wonderwerke en Seën.

Mag dit met al my lesers baie goed gaan die res van Julie. Ek hou julle op hoogte van my toere en feeste en gesprekke. Ook van elke groot en klein oorwinning of ook moeilike besluit wat oor my pad mag kom. Dit alles is deel van lewe in Sy doel en Sy  Groter Plan.

Groetnis tot Augustus!