NUUSBRIEF 27 AUGUSTUS 2024

Liewe Lesers,

Ek is laat vir hierdie Augustus-maand en met goeie rede. Die maand en die jaar hardloop teen ‘n snelheid wat ‘n rekord jaag. Dit is net soos die Olimpiese atlete die rekords wou breek in die Spele begin Augustus. Was dit nie ‘n ongelooflike Spele nie? Van hoe dit kontroversieel begin het met die openings seremonie en hoe dit geëindig het met soveel atlete wat alle Eer en Glorie aan hulle Talent-gewende Skepper en Vader gegee het.

Olifant op ‘n sweefstok handel en sweef rondom die Olimpiese Spele. Hoeveel inspanning, passie, jare se harde werk en oefening en natuurlik talent dit vereis om te kwalifiseer om teen die wêreld se bestes van hulle bestes mee te ding. Die storie en boek handel deurlopend met die fyn balans tussen die ure en ure se oefening vir daardie deelnames maar ook om ‘n lewe te leef tussen mense en ‘n span wat op jou reken. Om jouself as individu te behou. Jou passie vir jou sport uit te leef tot die vlak wat jy kan en bo-op dit moontlik, dalk, miskien tussen al die medewerkende faktore ‘n sosiale lewe in stand te hou. Liefde te vind of iemand wat jou kan liefhê maar ook jou toegewydheid en passie tot jou sport en of loopbaan te verstaan. Jou liefhet ten spyte van en nie as gevolg van nie.

Hierdie maand is ek weer in Noordwes Provinsie vanaf 25 Augustus tot 8 September. Ek is Saterdag 7 September by Buffelspoort Vakansie Oord by die ATKV se AFRIKITI-fees. ATKV se kuns en kultuur fees waar ek Olifant op ‘n sweefstok gaan bemark en bekend stel aan die besoekende skole. Dit is steeds my droom om Olifant op ‘n sweefstok in die skole te kry as voorgeskrewe werk vir grade 11 & 12 in die Afrikaanse Tweede Taal-baan. 

Ek glo daar is vir leerders genoegsame lewenslesse, letterkunde, romanse, aksie, sport, kultuur en die belangrikheid van vriendskap asook die gevaar van die media en misdaad om dit leesstof te maak vir elke hoërskool-leerder, hulle ouers, groot-ouers, oud en jonk. Vir almal. Om die emosies te herken wat elke mens so gereeld in sy of haar lewe ervaar. In die bladsye iets van hulleself te herken en mee te identifiseer. Gaan kyk weer na die Lokprent (https://youtu.be/YdPE42rm_pl) of bestel jou kopie met gratis koerier-aflewering:https//naledi.co.za/product/olifant-op-n-sweefstok/

Ek is ook weer in Noordwes om as gasspreker op 1 Oktober by Rustenburg Hoërskool – om die 4de kwartaal te open. Sou enige ander skool my in daardie tyd wil sien of belangstel dat ek die grade 11’s en 12’s en die Afrikaanse onderwysers meer te kom vertel waarom julle Olifant op ‘n sweefstok moet aankoop vir voorgeskrewe werk maak gerus met my kontak per epos: [email protected]

Verder gaan dit baie goed met die vordering van die opvolg-boek. Ek skryf fluks daaraan terwyl Danie Botha die afgehandelde hoofstukke vir my redigeer. Ek kuier by die liefde van my lewe in Noordwes Provinsie terwyl ek die Feeste behartig asook die skole-besoeke.

Ek kan getuig dat my Vader in die Hemel vir ons ‘n lieflike deel afgemeet het. Dat liefdes-geluk ten alle tye en op elke ouderdom moontlik is. Weereens: LIEFDE – het GEEN vervaldatum nie. Ook GEEN ouderdomsperk nie. Solank mens jou hand in Syne plaas. Jou vertroue in Sy Leiding en berus op die Groter Plan en Doel wat Hy met jou lewe het.

Dan kan mens werk en woeker met wat jy het! Hetsy ‘n pen in die hande – soos die talent aan my gegee. Of ons Vader in die Hemel vir jou strate laat vee of in ‘n kantoor-opset plaas, hetsy Hy jou die geleentheid bied om verder te studeer of mense te bedien as kelner. Hetsy jy jou eie besigheid van die grond af bou, een steen of klip op ‘n slag. Hetsy jy een liter melk uit jou enkele koei melk en aan die gemeenskap verkoop wat jy met “kindness” en waarde vir geld bedien en so jou eie besigheid opbou tot ‘n multi-miljoen industrie. Of jy soos ek X-Rand per boek verdien of miljoene in jou spaarbank sit – alles behoort aan Hom wat jou instaat stel om ‘n verskil te maak in die mense om jou se lewens. JY as mens is uniek in jou talent en jou passie. In jou mense-kennis en in jou besigheid.

In 2 Konings 4: 1-7 lees ons van die weduwee en die olie wat vermeerder het. Die olie wat sy in kruike moes gooi en gaan verkoop het om haar skuld te betaal maar ook verder te lewe van dit wat oorbly. Toe Elisa vir haar gesê het: (2 Kon 4: 2) “Wat het jy in jou huis?” en in (2 Kon 4: 4 en 7) “Gaan verkoop die olie en betaal jou skuld. Jy en jou seuns kan dan leef van wat oorbly.” Dalk het daardie weduwee niks eers van olie of die koop en verkoop en bemarking daarvan geweet nie? Dalk het sy gedink: “Olie? Wat sal ek tog met ’n  bietjie olie kan doen om skulde te betaal? Te lewe? Wat nog van ‘n ‘Olie-besigheid’ bou?” Tog… God se Plan was om haar en die olie te gebruik.

Gaan kyk in jou huis. Wat het jy? Dalk is dit ‘n koei? Dalk ‘n hoender? Dalk ‘n pen in jou hand of ‘n verfkwas of stuk materiaal? Dalk bakstene of iets so eenvoudig soos olie? Dit is ons Vader se doel om ons nederig en aan die soom van Sy kleed te laat raak sodat Hy die Wonderwerke deur ons kan doen. Of jy R50 maak om melk en brood te kan koop of ‘n miljoen. Om groot én klein goed/lewensmiddele mee te koop. Luuks of eenvoudig. Wéét die Genade is dit wat Hy in jou hande plaas om ‘n verskil te maak in jou eie lewe en dié van jou kinders, geliefdes en gemeenskap. Deel uit, seën jouself en ander sover jy kan met wat jy het. Só werk God deur jou as instrument. Leef deur voorbeeld en dade meer as deur preke en baie woorde.

Ek sluit af met die volgende aanhaling: “Work hard in silence – let success be your noise!” 

Baie dankie vir almal wat die moeite doen om die nuusbriefies te lees en te versprei. Ek waardeer elke “view” en elke “share”! Dit help mý om die “olie-in-my-huis” te vermeerder – sodat ook ek saam my geliefdes ‘n goeie lewe kan lei en tot seën vir ander kan wees!

Ek wens een elkeen ‘n mooi September-maand toe.  Dis Lente en Nuwe lewe bot orals uit. Gaan in jou binnekamer in. Sluit die deur en kyk mooi: “Wat is in my huis? Wat is in my tuin? Wat is in my hand?” Werk en woeker dan daarmee.

Ek sal gedurende September alles vertel van die Afrikiti-Fees – Saterdag 7 September ATKV -Buffelspoort Vakansie Oord.

Groete