NUUSBRIEF 24 OKTOBER 2024
LIEWE LESERS
Hier is ons alweer aan die einde van nog ‘n maand. Dit was inderdaad ‘n mooi maand gewees.
Op Dinsdag 1 Oktober 2024 open ek my geliefde lewensmaat Cornelius Smit die 4de kwartaal by ons oud-hoërskool Rustenburg Hoër. Wat ‘n vol sirkel het ons lewens nie geloop nie! Die oggend voor die opening soek Cornelius sy Leerlingraad skooldas van 1988. Hy kry dit in ‘n kas vol stof nog netso geknoop. Hy kom met die das by my aan en sê: “Besef jy dat die laaste maal wat ek hierdie das om my nek gesit het en afgehaal het, was die laaste dag wat ek en jy langs mekaar gestaan het as leerlingsraadslede – Onderhoofseun en Onderhoofdogter van 1988 matrieks. Dieselfde hande van ‘n 18 jarige skoolseun het hierdie das gevou daardie dag. Nooit die knoop losgemaak nie en netso in die kas gesit. Vandag 36 jaar later haal ek dit weer uit. En raai wat? Dieselfde meisie wat in 1988 langs my gestaan het staan vandag wéér langs my. In die ‘lewe’ van hierdie das, is dit net die volgende dag!” het hy filosofies bygevoeg. Ek het sy das met ‘n nat waslap skoon gevee, letterlik en figuurlik AL die stof van 36 jaar afgevee. By die skool gekom het Cornelius die skrif-lesing, ‘n leierskap boodskap en gebed gedoen. Ek moes na hom ‘n inspirasie boodskap vir die leerders gee om saam te neem vir die 4de kwartaal. (Cornelius se opening is hierby. Luister gerus daarna. Ek sal volgende maand my video oplaai sodra ek dit van die skool ontvang.)
Cornelius Opening – Rustenburg Hoër
Toe ek by die skool aangekom het ‘n liewe oud-vriendin wat nou daar klasgee vir my haar skoolbaadjie geleen: ‘n Erekleure ‘blazer’ net soos ek op skool gedra het. Ek het gepraat oor: HOOP, GELOOF EN WONDERWERKE. Ek het vir my dogter gevra wat sou sy wou hoor toe sy op hoërskool was? En onthou sy enige van die gassprekers wat kom praat het se boodskap? Selfs net één? Sy het my geantwoord: “Mamma ek onthou daar het van tyd-tot-tyd mense kom praat met openinge. Wat hulle gesê het kan ek nie onthou nie? Wat wil ons hoor wanneer ons daar sit? Sê vir hulle hoërskool kry klaar, dit is nie ‘vir-ewig’ nie! Want vir party kinders is hoërskool regtig ‘shitty’! Gee hulle HOOP dat dit nie die ‘beginning-and-all’ van hulle lewe is nie!” Daarom toe my praatjie soos hierbo genoem.
Ek het gesê dat hoërskool kan sleg of goed wees. Hoopvol of Hooploos. Die keuse is hulle s’n. Dat die lewe gebeur met jou en die hoop wat jy nou kweek is belangrik vir die toekoms wat wag. Ek het gepraat oor die verskillende groepe in die skool: Jocks, Players, Nerds, Crims-wat-rook-en-drink, die Sluipers en die Niks-doeners en die Alles-doeners, die Boelies en dié wat geboelie word. Akademie wat goed gaan of sleg. Huis-omstandighede wat arm of ryk is, of lekker of sleg. Ouers wat druk opsit, oupas en oumas wat saamwoon of sterf, broers en susters, mense wat siek word. Geliefdes wat sterf. Alles deel van hoërskool. Maar… dis uiteindelik nét 5 jaar is. In die totaliteit van die res van jou lewe wat voorlê is dit slegs ‘n baie klein stukkie/tydperk. Op hoërskool moet jy kies: Hoop of Hopeloos? Kies HOOP. Want daardie hoop gaan jou dra vir die res van jou lewe óf jou laat val indien jy die hopelose-opsie neem. Want deur die loop van die res van jou lewe gebeur nog honderde ander goed. Ek het my eie lewe en dié van my geliefde ingevleg in my praatjie. Hoe die lewe ons gegooi het, gedraai, gemaal, gebrei het. Traumas van geliefdes wat sterf. Egskeiding, verraad, vernedering, verwerping. Die verloor van jou werk, die val-en-opstaan oor-en-oor. Soms in só mate dat mens rockbottom tref. Daar op rotsbodem vind jy dan uit Wie is die Rots! God is die Rots. Wat help jou weer op boontoe? Die HOOP in jou hart. Want met daardie HOOP begin jy ‘n Rotsvaste GELOOF te bou. Geloof wat jou dra deur al die moeilike tye. Wanneer geloof deel word van jou hoop begin mens die WONDERWERKE raaksien. Groot en klein. Jy let op dat skoenlappers jou besoek wanneer jy hartseer is óf bly. Dat Engele bestaan en jy ‘n veer in jou pad optel – wat vir my ‘n teken is dat ‘n engel besoek afgelê het. Jy sien liewenheer-besies, ‘n hottentotsgot, bloeisels wat nuwe lewe aankondig. Jy kyk uit vir nuwe geleenthede en mense kruis jou pad wat deure vir jou oopmaak. Hierdie opening vanoggend by die skool is ‘n “deur” wat vir ons oopgegaan het. My en Cornelius se wonderwerk is ons liefde na 36 jaar wat ons mekaar weer gevind het. Herontmoet het. Hierdie dag is vir ons ‘n geleentheid om ‘n verskil te maak in selfs net één lewe! Na my praatjie kom staan hy langs my, die skool klap hande. Ek bloos toe hy my hand vat, want ek weet die handeklap is vir ons twee se wonderwerk! Hy neem die mikrofoon en sluit af met die mooiste gebed.
Die middag van 2 Oktober het ek ‘n Skryfskool by Rustenburg Hoërskool aangebied wat ongelooflik goed bygewoon is. Dit was ‘n eerste vir my en ek was baie op my senuwees. Tog toe ek begin het was dit maklik. Want ek het gepraat oor wat my passie is. Ek kon sien die leerders teenwoordig het geluister en hopelik kon ek hulle iets leer wat hulle nie geweet het nie? Ek het goeie terugvoer gekry oor die Skryfskool en dit is iets wat ek verseker verder gaan neem. Nóg ‘n deur wat geopen het.
Ek is steeds besig met die opvolg van: Olifant op ‘n sweefstok. Is besig met die laaste paar hoofstukke. Dit neem tyd, want die drade moet bymekaar kom. Ek moet onthou wat ek waar in die boek gesê het en moet nou alles tot ‘n ontknoping laat uitspeel. ‘n Uitdaging inderdaad. Gelukkig is ek die outeur en ken ek die uitslag en die einde…
November is vir my die afsluitings-maand van my manuskrip sodat die laaste dele na die 1ste proefleser kan gaan. Die manuskrip gaan vandaar terugkom na my toe vir die proses van: oorskryf, herskryf, weer-skryf, by-skryf, wegneem-skryf, edit,edit,edit… Daarna gaan dit na ‘n 2de proefleser/redigeerder wat dan weer daarna kyk. Ek volg dan dieselfde proses van oorskryf, herskryf, soos hierbo genoem. ‘n Moeilike proses want soms sê die redigeerder: “kill-your-darlings” met ander woorde: Maak dit korter óf brei uit. Dan moet ek kreatief byskryf. ‘n Moeisame proses, want ons almal dink mos ons eerste “draft” is perfek! Nee, dit is vêr van perfek! Inteendeel – daar lê nog BAIE werk voor!
Ek wens julle almal ‘n wonderlike November maand toe. Gaan soek weer jou HOOP, bou aan jou GELOOF en sien die alledaagse én die uitsonderlike, bo-natuurlike WONDERWERKE in jou lewe raak. Werk asof géén gebed gaan help nie. Bid asof geen werk gaan help nie. In daardie balans vind jy jou hoop, geloof en wonderwerke. ‘n Wonderwerk is presies wat dit sê: God doen die WONDER en jy doen die WERK. Sáám maak julle ‘n WONDER-werk!
Tot volgende maand. Hope seënwense en voorspoed in oorvloed! “HEART OVER MIND. MIND OVER MATTER. ALWAYS CHOOSE TO RISE. CARPE DIEM!”
Groete