NUUSBRIEF 30 DESEMBER 2024

Liewe Lesers

Hier is ons by Kersfees verby en op ons pad ou/Nuwejaar toe. Wat ‘n jaar was 2024 nie vir ons gewees nie? ‘n Ongelooflike jaar wat verby is. 

Op 26 Maart 2024 kry ek ‘n skrywe (E-pos) van NALEDI wat vir my die goeie, blye nuus meedeel dat Naledi ‘n opvolg-boek kontrakteer vir: Olifant op ‘n sweefstok. Die datum is vir my ‘n keerpunt. Want 26 Maart 2023 was die dag wat ek amptelik geskei het in die hof. Self was ek nie daar gewees nie. My eks het dit bygewoon en my prokureur namens my. Die geskeides wat onder die statistieke val sal weet dat dit ‘n datum is wat mens onthou. Tog, verskyn daardie dag en datum een jaar later op ‘n heel ander kontrak en verander dit die betekenis daarvan. So werk ons Vader in die Hemel. Hy is in die tydsverloop. Hy loop voor ons uit en is alreeds in ons toekoms en elke dag, datum, uur en minuut. Hy bepaal wie jou pad gaan kruis en wie nie. Wanneer jy waar gaan wees of nie. In 2024 het ek ‘n hele paar sulke Divine Appointments gehad. 

Gaan terug na my vorige nuusbriewe en julle sal dit raaklees. Op 4 April 2024 doen ek my Gauteng Boekbekendstelling en daar stuur ons Vader in die Hemel vir my my lewensmaat. ‘n Skoolmaat saam wie ek op skool was. Saam vanaf Graad 8-12. Saam gekies op die Graad 11 leerlingraad. Saam onderhoof-seun en onderhoof-dogter in matriek. Nooit iets aangehad op skool nie. Ons her-ontmoet by die Gauteng-boekpraatjie. Die res is geskiedenis. 

Soos hy my hand neem en my ‘n drukkie gee vlieg vergete vlinders binne-in my uit hulle papies. Ek besef ek is toe nie dood nie… Ek moet ‘n tweede asem skep toe ek vir myself afvra: Is hierdie gevoel op 54 jaar nog moontlik? So kom ons albei te wete dat ons deel van die traumatiese egskeidings-statistieke geword het van huweliksmaats wat ontrou was. Niemand kan sê dit is maklik of nie kompleks om ‘n verhouding na vyftig jaar te hê nie. Ons almal kom met ons pakkies bagasie wat deur die jare opgehoop het. Tog, in Genade en liefde help ons mekaar afpak, wegpak, ontlaai, herlaai en bou ons weer iets nuuts. Dit gaan stadig. Soms voel mens gefrustreerd. Vra mens: “Kan dinge nie net uitwerk vir ‘n slag nie? Hoe lank moet mens wag vir al die legkaart-stukkies om inmekaar te pas?” My lewensmaat Cornelius se woorde weerklink baie: “Die Here is nie haastig nie, maar Hy is deeglik!” Ons loop in Sy skadu, op die pad wat Hy aandui. Ons leef in diepe afhanklikheid van soms net genoeg Lig vir die volgende tree… 

Op die vooraand van 2025 moet en kan ek verklaar: “Wat ‘n reis!” In hierdie jaar het ek soveel Wonderwerke gesien. Het ek en hy heel geword. Ja, daar sal altyd littetekens wees van ‘n geskiedenis van seerkry. Maar soos iemand eendag baie wys opgemerk het: “Scars do not tell your story of where you are going. It only shows what you’ve survived and tell the story of a future so beautiful that the scars will not even matter.” 

Op 7 Desember2024 doen ons die STRAND LEESFEES. Cornelius Smit – my lewensmaat is ook my onderhoudvoerder vir: Olifant op ‘n sweefstok. Hy is ‘n uitstekende spreker en ons hou die gehoor langer besig as wat ons beplan het, maar niemand het gekla nie. Hierby is ‘n paar foto’s aangeheg van daardie dag. ‘n Video of 2 of 3. Kyk gerus en stuur vir my jou terugvoer op my NALEDI-review-page: https://naledi.co.za/product/olifant-op-‘n-sweefstok/

Die nuwe jaar lê propvol nuwe dinge. Ek wil graag hoërskole besoek met my boek: Olifant op ‘n sweefstok. Ek is oortuig dit sal baie goed vaar in die Afrikaanse tweede taal-baan en wil dit sover moontlik daarvoor bemark. Ek wil ook meer konsentreer op Skryfskole en Motiverings-praatjies. 

Ek is druk besig met die opvolg-boek: SWEEF EN VAL en NALEDI glo ons sal dit teen Mei/Junie of laatste Julie 2025 publiseer. Ek wil soveel as moontlik boekfeeste, boekpraatjies, boekklubs, biblioteke en skole besoek. Ek is ook besig om ‘n groter online-sigbaarheid te probeer ontwikkel en ek vra u om my Instagram Author-page te gaan follow. Ek wil nie een van die massas word wat “followers” najaag nie, tog is dit ‘n feit dat die kuberruim en aanlyn sosiale media ‘n kragtige bemarkings-intrument is. Help my asseblief om dit tot my en my lesers se voordeel aan te wend? Hoe groter sigbaarheid ek op daardie platforms kan kry hoe beter vaar my boek(e) en hoe meer kan ek aanhou skryf om vir julle as lesers stories te kan voorsien om die realiteit van elke dag se lewe net bietjie op te juice! 

Dit is noodsaaklike emosionele en psigiese ontvlugting om ‘n goeie boek te lees wat jou kan wegvoer na ‘n wêreld waar jy net kan ontspan, jou hare kan laat hang en deel kan raak van hoe dit voel om weer-en-weer-en-weer verlief te raak. Vlinders op die kol van jou maag te voel, jou oë te sluit en te reis op ‘n ruimteskip na sterrestelsels en melkweë wat jou weer krag en energie gee vir jou dagtake, jou werkies groot en klein. 

‘n Wonderlike Oujaar en fantastiese 2025 wens ek al my lesers toe. Dankie vir julle ondersteuning. Julle gebede, julle lees van my nuusbriewe en aankoop van my boeke. Ek hou aan met skryf omdat ek mense in my lewe het soos julle. Dankie-dankie daarvoor.

Ek sluit af met my gunsteling vers: Sefanja 3: 17 “Die Here jou God is by jou. Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou. Hy is stil-tevrede in Sy liefde. Hy jubel en juig oor jou.”

Seënwense vir die laaste dae van 2024 en Voorspoed in Oorvloed  vir elke tree van

2025.

Groete