NUUSBRIEF 28 MEI 2025

Liewe Lesers,

Dis einde Mei-maand. Dis herfs in die Boland, Stellenbosch en amper reeds winter in die Noordwes-Provinsie, waar ek by my geliefde Cornelius kuier al vanaf 11 Mei. Ek vlieg terug Kaap toe Saterdag 31 Mei. Die “Commuter marriage” is uiteraard ‘n uitdaging.  Die weggaan is elke keer hartverskeurend. Tog, o die blye-blye weersiens na weke se afwesigheid… dit is elke keer soos om van voor af verlief te raak – op mekaar! En lief. Die liefde se kapasiteit word net groter en die diepte is eindeloos.

Hierdie maand van Mei het vir my en Cornelius weer van voor af laat besef: “‘n Mens kan jou planne hê, maar dit is die Here se besluit wat uitkom.” (Spreuke 19:21) Ons het paar idees gehad van: Hoe gaan ons in een dorp kan werk en wees? Miskien die einde van die jaar? Miskien eers volgende jaar of die jaar daarna? Dit is net die Here wat daardie deure sal kan oopmaak. Ons wag biddend daarop. Daar het al soveel wonderwerke in ons lewens gebeur, dat ons Hom vertrou ook vir die regte geleentheid om ons saam op dieselfde plek te plaas. Soos baie van julle weet: Om alleen te gaan slaap, alleen wakker te word in die oggend. Die groot bederf van koffie in die bed… Die Heilige Grond van saam Bybellees en saambid. Dit is net anders om dit saam te doen met die mens vir wie jy lief is as alleen. Ons is egter so dankbaar vir “video-calls” – om mekaar se gesigte te kan sien, liggaamstaal te kan “lees” oor ‘n kuberbeeld selfs oor 1500km. Ons dink met simpatie aan ons grootouers wat met posseëls op geskrewe briewe moes “vry”. Hulle moet twee tot drie weke wag vir ‘n brief in die pos. Dan weer daarop antwoord en die geliefde aan die ander kant, ander dorp of stad selfs lande (dan het die maande geduur) vir ‘n kosbare: “Hoe gaan dit? Ek is lief vir jou.” Nou doen ons daardie boodskappe per WhatApp, telefoon-oproepe en video-calls. Tog niks, niks niks kom by persoonlike kontak nie!

My drie weke hier in Noordwes was heerlik. Ek het met ‘n nuwe vriendin by die ATKV waar Cornelius ook werk gaan koffie drink. Die waarde van lewensstories deel moet nooit gering geskat word nie. Om nuwe vriendinne te maak is kosbaar. Ek het ook ‘n mede-NALEDI-outeur: CHRISTINE SHAW ontmoet by ‘n plekkie naby Hartebeespoortdam genaamd: JASMYN. Daar het ons wafels geëet by ‘n plekkie genaamd: I love waffles.” Christine het ‘n boek geskryf: “Hoe ver nog?” en hoeveel van ons vra soms daardie vraag vir onsself, vir die Here, skreeu dit by tye die Universe in! “HOE VER NOG?” Christine en ek is albei deur traumatiese egskeidings. Dae en maande wat uit trane en vrae bestaan het. Tye wat mens nie die lig eers vir die volgende tree kan sien nie. Opstaan in die oggend en nie kans sien vir die dag nie, wat staan nog die volgende uur… En hoe ons gedra is. Deur ‘n God wat ons name ken. Deur vriende, familie en vreemdelinge. Deur ‘n NALEDI-uitgewery wat ons boeke publiseer en met ons ‘n pad stap. Onthou ons albei se boeke kan aanlyn bestel word  by: https://naledi.co.za/product/olifant-op-n-sweefstok/ of https://naledit.co.za/product/hoe-ver-nog/  Gebruik die aanlyn fasiliteit. Die koerier-koste tot by jou voordeur is ingesluit. Skakel NALEDI se PR: Tertia Swart: E-pos: tertia@naledi.co.za by 078 648 8616 of bestel die boeke deur jou kindle: https://amzn.to/4awU4aA 

Ek is steeds besig met my redigeerder: Danie Botha se regstellings van my eerste draft van die opvolg van: Olifant op ‘n sweefstok. Die werkstitel mag verander maar die Editing vorder. Op die redigering van die eerste draft” is dit amper asof jy as skrywer die hele manuskrip oorskryf. Ek het byna ‘n jaar lank aan die manuskrip spandeer. Nou met die Editing daarvan lees ek van nuuts af wat ek alles ‘n jaar gelede neergepen het. By tye verander ek sommer ‘n hele hoofstuk, ander kere is ekself beïndruk met wat ek geskryf het! Dat ek soms dink: Was dit regtig ek? En ja sowaar, so kom die hele verhaal (opvolg) weer lewend – speel die hele storie wat ekself uitgedink het voor my af… Dit is harde werk om die redigering te doen. Daar is dele wat die redigeerder vir jou sê: “Kill your darlings” hierdie is oorbodig – en dan het jy as skrywer eintlik gedink: Dis briljant! Dit is oorskryf, herskryf, weer-skryf, byvoeg en weglaat. Dit is aan die gebeur en dit is ook waarmee ek die res van Junie-maand mee gaan besig wees.

In die tussen-tyd het ek ook van my Draaiboek-Redigeerder: Daniel Dercksen van: The Writing Studio (daniel@writingstudio.co.za) in Prins Albert terugvoer gekry oor my eerste debuut roman: POORTE: Elke seisoen het ‘n storie. Hy het die POORTE draaiboek in Engels vertaal. Ek is kinderlik nuuskierig oor wat hy daarmee vermag het? Ek begin dit deurlees sodra ek klaar is met die Editing van Olifant se opvolg en ek dit terug besorg het aan Danie Botha om die redigering van die 2de draft te doen. Dus soos julle kan aflei: Daar lê ‘n besige-besige Junie-maand vir my voor!

Ek is steeds dankbaar vir elkeen wat die tyd neem om hierdie nuus briefies te lees. Elke leser wat vir ‘n vriend of vriendin van my vertel en aanmoedig om ‘n boek te koop. My boek of enige van ons outeurs by NALEDI. Ons het mekaar se ondersteuning baie nodig. Met die gedrukte media wat al hoe meer wil-wil uitsterf… en ‘n wêreld wat net meer digitaal word, is elke leser se boekaankopie goud en edelstene werd! Dankie-dankie vir julle!

Ek wens julle almal ‘n goeie Junie-maand toe. Wees warm en knus in hierdie eerste wintersmaand van 2025. Wanneer dit ook “winter” in jou hart of lewe voel, skryf gerus vir my ‘n E-pos, ek antwoord soos en wanneer ek kan: (lelanieroode@gmail.com) Skryf vir my van jou “winters” en skryf vir my van jou wonderwerke. Ons het mekaar nodig – nie net in slegte dae/seisoene nie maar ook in die goeie dae, maande en tye. Ek laat julle met die verse wat vir my en my geliefde hierdie Mei-maand uitgestaan het:        (Job 22:21-30.) Gaan lees dit gerus. Laat daar ‘n VREDE en blydskap oor julle kom en gaan wees in die wete dat ons Here vir ons alles ten goede WIL laat uitwerk.(Romeine 8:28) Ons moet Hom net vertrou, ons lewe en planne aan Hom oorgee. (Spreuke 19:21)

Ek lees ook verder in die motivering-spreker: Mel Robbins se boek: LET THEM:  en ek haal spesifiek ‘n aanhaling in haar boek aan op bladsy 70: “Yes, it may take you six months to land something amazing (of in my geval amper 55 jaar!) but those six months (of jare) are going tog o by whether you do nothing, OR you go after what you want.” Gaan volg haar op Instagram (nadat julle my ook gaan volg het natuurlik: (https://instagram.com/authorlelanieroode?igshid=MzRIODBiNWFIZA==  Sy het ongelooflike inspirerende podcasts, reels en stories! Tot volgende maand –

Groetnis