NUUSBRIEF 31 JANUARIE 2026
Liewe Lesers,
Januarie het stil-stil ingestap, tog voel alles reeds volspoed—’n nuwe jaar wat wag om gevul te word met stories, hoop en wonderwerke. Ek sit vandag en skryf met ’n hart vol dankbaarheid en ’n gees wat kinderlik opgewonde is oor die splinternuwe jaar wat voorlê.
Ek het die eerste “draft” van Olifant op ’n Sweefstok voltooi. Ek het dit geniet om die vertaling te doen. Om my storie te sien lewendig word in Engels. Dit wag nou om wéér deurgelees en fyn geslyp te word voordat dit na die Engelse proefleser gaan.
Terselfdertyd het ek begin met die editing van die opvolg, Val en Sweef, terwyl ek met die vertaling van Val en Sweef parallel daarmee aan die gang is. Dis ’n groot, maar noodsaaklike proses. ‘n Sekerheid is dat: Val en Sweef later vanjaar in beide Afrikaanse en Engelse weergawes verskyn. Die publikasie is vir Augustus–Oktober 2026 beplan, en ons kan nie wag om die wêreld te wys hoe ryk en lewendig Afrikaanse storievertelling kan wees nie.
Kersfees en oujaar-nuwejaar was vir my ’n besondere seën. Ek het dit saam my kinders en my geliefde Cornelius gevier—’n huis vol lig, lag en liefde. Op 26 Desember het ons saam my ma en sussie die Nutcracker–ballet by Monte Casino gaan kyk. Wat ’n vreugde kos vir die siel!
Cornelius se houtbesigheid, CORLANIE BOSVELDHOUT, gaan van krag tot krag. Dis 8–9 kg sakkies bosveldbraai-en kaggelhout. ’n mengsel van Sekelbos, Knoppiesdoring, Apiesdoring en bietjie harde hout. Dit verkoop fantasties! Ons begin selfs aan die Wes-Kaapse mark lewer. Die Kapenaars hou van hul vleisbraai met hout. Kaggelvure in die winter. Hierdie hout doen albei. Vanaf wors tot hoender, van steak tot kebabs, en selfs laaste–laaste, braaibroodjies op die warm afkoel-kole. Boonop: dit is droog—enige braaier weet hoe frustrerend nat hout kan wees! Indien jy in en om Stellenbosch is en jou eie sak wil koopkontak my gerus by lelanieroode@gmail.com.
Ons droom ook al meer van van plek tot plek toer deur die land met boekpraatjies in die dorpe en stede. Boeke én braaihout in die kattebak sal ons reis… Dit is nie net ’n romantiese idee nie—ons spreek dit daagliks in gebed uit en glo dat, wanneer Val en Sweef later vanjaar publiseer, dit nie meer net ’n droom sal wees nie, maar werklikheid. Ek vra julle: bid saam ons vir hierdie droom.
Die Engelse vertaling van my boeke is nie meer net ’n opsie nie; dit is ’n prioriteit om ’n voet in die internasionale mark te kry.
Ek wil julle ook graag laat vertrek met een van my gunsteling-verse uit die Bybel:
Sefanja 3:17 – “Die Here jou God is by jou. Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in Sy liefde. Hy jubel en juig oor jou.”
Wat my nog altyd en steeds en ook vir 2026 dra.
Ek hoop dat hierdie jaar vir julle sag, vol belofte en lig begin. Mag julle drome blom waar geloof dit plant, en mag julle moed vind om dit te koester selfs wanneer die oes ver voel. Ons voel Sy teenwoordigheid elke dag in ons werk en lewe.
Met liefde, dankbaarheid en ’n hart vol verwagting,
Lelanie Kruger
“You may have to fight a battle more than once to win it.” — Margaret Thatcher.